Nuus 16:00
BULLETIN 4 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbeki voorspel meer onbesliste munisipaliteite ná die verkiesing
# Die boer van Noordwes Donovan Marx beleef ‘n mediese terugslag
# En rugby: Die Bokke se verdedigingsafrigter waarsku die besering-geteisterde Italianers is steeds ‘n groot bedreiging
# Oudpresident Thabo Mbeki sê daar sal waarskynlik verskeie onbesliste munisipaliteite wees ná vandag se munisipale verkiesing. Hy het in Houghton in Gauteng gepraat nadat hy gestem het. Mbeki skryf dit toe aan meer politieke partye wat meeding en onsekerheid onder kiesers oor die land se toekoms. Hy sê baie dinge het in plaaslike regerings skeefgeloop en hy glo kiesers is onseker oor wie die regte oplossings het. Mbeki sê die land moet die onderliggende probleme aanpak:
# Die Personeelvereniging vir die Motorbedryf sê die bedryf kan nie net van een uitvoermark afhanklik wees nie. Dit volg nadat Amerika besluit het om Suid-Afrika vanaf Januarie volgende jaar van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika te verwyder. Phakamile Hlubi-Majola van die vakbond sê die bedryf is reeds getref deur ‘n Amerikaanse tarief van 25-persent wat verlede jaar bygedra het tot ‘n daling van 83-persent in voertuiguitvoere na Amerika:
# Die gesin van ‘n boer van Noordwes, Donovan Marx, sê hy het ‘n mediese terugslag beleef ná ‘n noodoperasie. Hy is verlede week ernstig beseer tydens ‘n wrede plaasaanval naby Ventersdorp en word steeds in die hoësorg-eenheid behandel. Vier beskuldigdes bly in aanhouding nadat hulle gister in die plaaslike Landdroshof verskyn het en ‘n vyfde het volgens berigte ‘n staatsgetuie geword. Marx se gesin sê sy herstel bly ‘n groot uitdaging en vra Suid-Afrikaners se volgehoue gebed en ondersteuning.
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Chinese hof hoor ‘n lastersaak aan teen die Amerikaanse deelstaat Missouri en verskeie huidige en voormalige prokureurs-generaal oor bewerings rondom die Covid-19-pandemie. Die eisers, insluitend Wuhan se regering en Instituut vir Virologie, voer aan Missouri het China se rol in die pandemie verkeerd voorgestel en eensydige bewerings versprei. Hulle eis ‘n openbare verskoning en vergoeding van 887-miljard-rand. Die saak volg op ‘n regsgeding wat Missouri in 2020 ingestel het waarin Chinese owerhede daarvan beskuldig is dat hulle die pandemie swak bestuur en ekonomiese skade veroorsaak het.
# Rugby: Die Springbokke se verdedigingsafrigter, Jerry Flannery, hou vol Italië is steeds ‘n gevaarlike teenstander al is verskeie sleutelspelers weens beserings nie beskikbaar vir Saterdag se Nasieskampioenskapskragmeting in Turyn nie. Die Azzurri sal sonder Juan Ignacio Brex, Tommaso Menoncello en Sebastian Negri wees. Flannery voer aan die gashere is steeds ‘n indrukwekkende span wat geanker word deur sterk vastespel en ‘n aanvallende agterlyn:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 18-rand-51-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-197-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-46-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….