Nuus 16:00
BULLETIN 17 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA onthul sy veldtoglied vir die verkiesing
# Cosatu verwelkom die uitstekende vordering wat die Parlement gemaak het met die Wysigingswetsontwerp op Pensioenfondse
# En, gholf: Thomas Bjorn sal in 2025 weer Europa se Ryderbeker-onderkaptein wees
# Die DA het sy verkiesings-veldtoglied, We Gotta Rescue South Africa, amptelik bekendgestel. Die leier, John Steenhuisen, sê dit weerspieël die party se toewyding tot wat hulle ‘n kritieke reddingsending in die verkiesing noem. Belangrike metropolitaanse gebiede sal landwyd besoek word met ‘n boodskap van hoop. Die lied is die werk van die musieklegende Lloyd Cele, en is in Kaapstad bekendgestel tydens ‘n saamtrek op die party se reddingstoer:
# Cosatu het die Parlement se uitstekende vordering met die Wysigings-wetsontwerp op Pensioenfondse verwelkom. Dit is een van twee kritieke wysigingswetsontwerpe wat die lang verwagte tweepot-pensioenfondsstelsel-hervormings in staat sal stel om op 1 September vanjaar in werking te tree. Die ander een, die Wysigingswetsontwerp op Inkomstewette, is deur albei Huise van die Parlement aanvaar. Cosatu se waarnemende woordvoerder, Matthew Parks, sê die vakbondfederasie praat sedert Mei 2020 met die Tesourie en die Parlement oor die tweepot-stelsel:
# Die Oos-Kaapse ekonomie het ‘n aansienlike inspuiting gekry met die Volkswagen-groep Afrika se belegging van vier-miljard-rand in sy Kariega-aanleg. Dit skep werksekerheid en vaardigheidsontwikkeling. Dit voeg ook ‘n derde passasiersmotor by die vervaardigings-portefeulje. Die besturende direkteur, Martina Biene, sê hulle fokus op die behoud van indiensnemingsvlakke. Sy sê die belegging bewys ook die voertuigsektor se kritieke rol in globale markte en Afrika se strategiese posisie in die oorskakeling na elektriese voertuie:
# AgriSA sê die Wysigingswetsontwerp oor Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg is ‘n aansienlike mylpaal in die evolusie van eiendomsreg. Dit het dié maand van krag geword en verbeter die sekerheid van eiendomsreg terwyl dit grondeienaars en besetters se regte balanseer. Die wetgewing verfyn sleuteldefinisies, maak bemiddelling verpligtend voor uitsetting, en gee regte vir woonplekke en begraafplase. Dit skakel ook oor van subsidies na verblyfreg-toelae en skep meganismes vir oorsig. AgriSA se onderskrywing beklemtoon die belangrikheid van pro-aktiewe skakeling en voldoening aan die wet vir vertroue tussen belanghebbers.
# Gholf: Thomas Bjorn van Denemarke sal weer Span Europa se onderkaptein wees in volgende jaar se Ryderbeker-kompetisie teen Amerika in New York. Hy was ook Luke Donald van Engeland se regterhand toe Europa die Verenigde State verlede jaar in Rome geklop het. Die vasteland hoop om volgende jaar die eerste keer sedert 2012 die kompetisie in Amerika te wen. Donald sê omdat dit ‘n wegkompetisie is, moet hulle so gou moontlik begin beplan. Dit word in September in Farmingdale gespeel.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-5-sent teen die dollar, 20-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-619-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-387-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….