Nuus 16:00
BULLETIN 2 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK meld ‘n positiewe begin van spesiale stemmery terwyl 99-persent van die stempunte betyds oopmaak
# Beleggings van meer as 548-miljard-rand is beloof vir Suid-Afrika se spesiale ekonomiese sones
# En krieket: Cummins sinspeel op groot veranderings aan die toetsspan na die reeksnederlaag teen die Proteas
# Die Verkiesingskommissie sê die eerste dag van spesiale stemmery vir Woensdag se munisipale verkiesing het goed verloop, met bykans 99-persent van stempunte wat betyds geopen het. Die OVK sê sake het meestal vlot verloop, hoewel sommige stempunte in Kaapstad vertragings ondervind het. Die adjunk-uitvoerende hoof Masego Sheburi het kiesers aangemoedig om hul stembesonderhede na te gaan voor hul gaan stem:
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku kiesers intussen dat afwisselende tot verspreide buie en donderstorms vandag en môre oor verskeie dele van die land erwag word. Gautengse kiesers word gewaarsku teen moontlike donderstorms Woensdagmiddag, met stemmery wat deur swaar reën en weerlig ontwrig kan word. Intussen kan Kaapstad sonskynweer verwag, terwyl Durban warm, vogtige toestande en moontlike buie langs die kus kan ondervind. Kiesers word aangemoedig om weervoorspellings na te gaan en voor te berei vir veranderende toestande, insluitend uiterste hitte en reën, wanneer hulle stemlokale besoek.
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê 141 maatskappye het beleggings van meer as 548-miljard-rand in Suid-Afrika se spesiale ekonomiese sones beloof, wat moontlik meer as 60-duisend permanente werksgeleenthede kan skep. Hy het in Steelpoort, Limpopo, na die Fetakgomo-Tubatse-sone verwys, wat reeds beplande beleggings van 52,6-miljard-rand gelok het. Die projekte kan die volgende dekade 20-duisend werksgeleenthede skep. Tau sê die regering wil plaaslike mineraalverwerking en vervaardiging uitbrei om nywerheidsontwikkeling en ekonomiese groei ‘n hupstoot te gee.
# AgriSA sê Suid-Afrikaanse boere benodig regverdiger landboupryse en meer ondersteuning te midde van stygende koste en kleiner winsmarges. Die organisasie deel Graan SA se kommer oor die prys van sojabone en die uitwerking op produsente. AgriSA vra die Johannesburgse Aandelebeurs om sy prysbepalings-meganismes te hersien om te verseker dit weerspieël werklike marktoestande. AgriSA se president, Willem de Chavonnes Vrugt, vra dringende gesprekke om boere te beskerm en die landbousektor se langtermyn-volhoubaarheid te ondersteun.
Krieket: Australië se kaptein, Pat Cummins, erken veranderinge is nodig is nadat hulle die toetsreeks teen Suid-Afrika 2-1 verloor en hul voorste plek op die ranglys afgestaan het. Australië het op die laaste dag van die beslissende toets in Kaapstad ‘n wenteiken van 288 gejaag, maar is uitgeboul vir net 111 – hul derde nederlaag in hul laaste vyf toetse. Cummins erken besprekings oor spankeuses is onvermydelik voor volgende maand se reeks teen Nieu-Seeland:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 22-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-901-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-903-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 113-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….