Nuus 16:00
BULLETIN 12 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die saak teen die vermeende moordenaars van die Kaizer Chiefs-verdediger Luke Fleurs word uitgestel
# Die Wes-Kaapse regering open ‘n strafregtelike saak teen die Knysna-munisipaliteit
# En tennis: Australië se top dubbelspel-speler se Olimpiese droom is aan flarde
# Die Landdroshof in Roodepoort, Gauteng, het die saak teen ses beskuldigdes uitgestel wat verbind word met die moord op die Kaizer Chiefs-verdediger Luke Fleurs in ‘n mislukte kaping in Johannesburg. Hulle word aangekla van moord, roof, die besit van onwettige vuurwapens en regsverydeling. Die uitstel sal regshulp-aansoeke moontlik maak. Landdros Annaline Africa het die media opdrag gegee om nie haar gesig en dié van hofbeamptes te wys nie:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, het ‘n strafregtelike saak geopen teen die Knysna-munisipaliteit weens onvoldoende reaksie op die vaste afval-krisis. Die premier, Alan Winde, het die munisipaliteit se versuim veroordeel om noodsaaklike dienste te verskaf en sê dit lei tot menseregteskendings. Bredell sê omgewingsagteruitgang en besoedeling is ook gevolge van die munisipaliteit se mislukking met die krisis.
Die minister van Water en Sanitasie Senzo Mchunu ontmoet intussen vandag munisipaliteite in Gauteng en die Vrystaat oor die besoedeling van die Vaalrivier. Indringerplante neem oor weens die invloei van onbehandelde afvalwater. Vroeër vanjaar is ‘n spitsberaad gehou oor swak watergehalte en verhoogde risiko in munisipale afvalwaterstelsels. Die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, sê Mchunu sal met die munisipaliteite praat oor strategieë om watergehalte te verbeter en besoedeling stop te sit:
# Stokvelspaargeld toon ‘n oplewing tot ‘n indrukwekkende 9,6-miljard-rand, wat die veerkragtigheid van lede bewys in ‘n moeilike ekonomiese klimaat. Die toename van 15-persent in netto deposito’s weerspieël toewyding aan ‘n spaarkultuur in Suid-Afrika. FNB se uitvoerende beampte vir kleinhandel- en kontantbeleggings, Himal Parbhoo, skryf die groei toe aan lede se finansiële dissipline. Die bank merk die veranderende aard van stokvelle op en moedig lede aan om ‘n reeks beleggingsmoontlikhede te oorweeg vir volgehoue groei en finansiële sekerheid.
# Tennis: Die wêreld nommer drie dubbelspelspeler Storm Hunter moes onttrek aan Australië se span vir die Billie Jean King-beker na ‘n enkelbesering, wat ook haar Olimpiese droom beëindig het. Sy het gister tydens oefening ‘n haksening geskeur en kan tot ses maande lank buite aksie wees. Hunter was aan die einde van verlede jaar die wêreld se voorste dubbelspeler. Sy sê op sosiale media haar hart is stukkend en sy is platgeslaan. Australië kom die naweek teen Meksiko te staan in die Billie Jean King-bekerkwalifiseerder in Brisbane.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-99-sent teen die euro en 23-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-870-dollar-1-sent. Die prys van goud is twee-duisend-392-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….