Nuus 16:00
BULLETIN 27 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola waarsku oor ‘n nuwe wedloop oor Afrika se minerale rykdom
# Die Raad vir die Ontwikkeling van die Boubedryf plaas 75 kontrakteurs lewenslank op die swartlys
# En sokker: Minister McKenzie stel veranderings voor vir beter skarebeheer tydens die Soweto-derby
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, waarsku oor ‘n hernude wedloop oor Afrika se hulpbronne en moedig lande aan om hul mineraalrykdom te beskerm teen buitelandse uitbuiting. Hy het op die tweede Afrika- en Afrika-diasporakonferensie in Ekurhuleni, Gauteng, gepraat oor die uitvoer van onverwerkte minerale en sê Afrika-lande moet meer in nywerhede belê om werksgeleenthede vir jongmense te skep. Lamola meen beheer oor hulpbronne is noodsaaklik om ongelykheid te bekamp:
# Die Raad vir die Ontwikkeling van die Boubedryf het 75 kontrakteurs lewenslank gederegistreer en op die swartlys geplaas nadat hulle registrasievereistes oortree het. Voorsitter Khulile Nzo het in Pretoria gesê hulle is lewenslank van die Nasionale Register van Kontrakteurs verwyder weens wanvoorstellings, insluitend vervalste bankstate en vals projekinligting. Nzo sê die stappe het in 2024 begin om te verhoed dat swakpresterende en bedrieglike kontrakteurs staatskontrakte bekom en openbare geld in gevaar stel. Ondernemings wat geraak word, sluit die Moriel-groep in, wat verbind word met die sakeman Lawrence Mudzinganyama.
# Die DA het ‘n klagte by die Menseregtekommissie ingedien teen die ANC-geleide Stad Ekurhuleni in Gauteng oor 659-miljoen-rand se infrastruktuur wat voltooi is, maar nie geopen nie. Dit sluit drie reservoirs in – die Selcourt-reservoir van 123-miljoen-rand, die Modder-Oos-reservoir van 115-miljoen-rand en die Masechba-reservoir van 107-miljoen rand. Daar is ook ‘n vroeë kinderontwikkelingsentrum van 46-miljoen-rand wat sedert 2018 gesluit is, en ‘n ondernemingsentrum in Reigerpark van 108-miljoen-rand. DA-woordvoerder Khathutshelo Rasilingwane sê dit skend regte op water en waardigheid sowel as kinderregte, en sy eis dat ‘n ondersoek ingestel word.
Nuus uit die buiteland:
# Rusland en Oekraïne het ‘n skietstilstand begin rondom die Russies-besette dorp Oleshky as deel van ‘n humanitêre poging. Aanvalle op ander plekke duur egter voort, insluitend in die Oekraïnse hoofstad, Kiëf. Daar is ernstige tekorte aan voedsel en medisyne in die dorp, en die skietstilstand behoort hulpverlening asook ontruimings moontlik te maak. Die Russiese Ministerie van Verdediging sê hy het aanvalle in die rigting van die Oekraïnse stad Cherson opgeskort ter voorbereiding van die skietstilstand in Oleshky, wat aan die anderkant van die Dnipro-rivier geleë is.
# Sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê stadions moet veiliger en gesinsvriendeliker wees. Hy het ‘n oorsigbesoek gebring aan die FNB-stadion voor Saterdag se uitverkoopte Soweto-derby tussen Orlando Pirates en Kaizer Chiefs. Dit volg op kommer oor skare-veiligheid, opeenhopings en toeskouergedrag tydens vorige derbies. McKenzie sê sommige van die voorgestelde veranderings sluit in genommerde sitplekke vir beter skarebeheer en om busse in noodbane toe te laat om verkeersdruk te verlig:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-66-sent teen die dollar, 18-rand-57-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-859-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-14-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 115-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….