Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ministerie van Polisie fokus op gemeenskapsimbizo in misdaadbrandpunte
# Die minister van Vervoer bevestig die einde van Gauteng se e-tolstelsel
# En, die Olimpiese Spele: Wêreldatletiek kondig reuseprysgeld aan vir gouemedaljewenners in Parys
# Die Ministerie van Polisie is daarop ingestel om gemeenskaps-wetstoepassing te verskerp in misdaadbrandpunte regoor drie provinsies. Woordvoerder Lirandzu Themba verwys na Operasie Shanela wat tot 500-duisend inhegtenisnemings gelei het. Volgens Themba sal die minister van Polisie, Bheki Cele, môre, Vrydag en Sondag die gemeenskapsimbizo in onderskeidelik KwaZulu-Natal, Gauteng en die Wes-Kaap lei waar ernstige misdaad bespreek sal word:
# Die minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga het die einde aangekondig van e-tol in Gauteng met motoriste wat van Vrydag af nie meer daarvoor hoef te betaal nie. Sy sê die provinsiale regering sal die e-tol-infrastruktuur heraanwend, en die kamera’s behou vir padveiligheid en om misdaad vas te lê. Dit is nog onseker of die e-tolskuld afgeskryf sal word. Chikunga waarsku ook dat motoriste wat e-skyfies na die afsluiting wil hê hulle uitstaande rekenings kan betaal. Sy sê die e-skyfies sal nog by tolplaza’s werk:
# ‘n Ywerige boeliebief-eter het sy vingers verbrand in Nieu-Seeland. Die polisie in Aukland het nege aanklagte van diefstal teen die 39-jarige man aanhangig gemaak na hy na bewering boeliebief van 37-duisend-rand gesteel het in verskeie voorvalle sedert November verlede jaar. Hy is aangekeer toe hy een keer te veel probeer het om ‘n winkel te verlaat met 20 blikkies boeliebief en ander items sonder om te betaal. Personeel het die man herken wat gesoek word vir ‘n aantal diefstalle by winkels in die gebied en die polisie is ontbied om die man aan te keer.
# Olimpiese Spele: Die 48 gouemedaljewenners in atletiek op die Spele in Parys sal elk prysgeld van 926-duisend-rand kry. Die sport het die eerste geword om prysgeld aan te bied by ‘n Spele. Silwer- en bronsmedaljewenners sal van 2028 se Spele in Los Angeles ook prysgeld verdien. Die president van Wêreldatletiek, Sebastian Coe, sê dit spruit uit ‘n besluit in 2015 dat al die geld wat die liggaam van die Internasionale Olimpiese Komitee vir die Spele kry, regstreeks teruggeploeg moet word in die sport.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 20-rand-7-sent teen die euro en 23-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-925-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-348-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-89-sent per vat.
# En ten slotte: Chris Hani se weduwee, Limpho (Diempoe), het die huidige regering gekritiseer en sê hy het haar man en die mense gefaal. Hy is vandag 31-jaar gelede vermoor. Hani betreur die gebrek aan politieke wil om die land se uitdagings te pak, en het uitgevaar oor die nodigheid vir moontlike fase 16-beurtkrag. Sy kritiseer ook Eskom se gebrekkige beplanning en verwys na die uitgawe van 35-miljard-rand op diesel. Hani het tydens die Chris Hani-herdenking in Ekurhuleni haar lewenslange toewyding aan die ANC uitgespreek:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….