Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mashatile verseker beurtkrag eindig nog vanjaar
# Die Wes-Kaapse regering gee ‘n oorsig oor die gevolge van die gure weer
# En, krieket: Nieu-Zeeland hoop om groot skares te lok na die drie toetse teen Engeland
# Adjunk-president Paul Mashatile het Suid-Afrikaners verseker beurtkrag sal die einde van die jaar iets van die verlede wees. Hy het tydens ‘n openbare lesing by die Universiteit van Johannesburg gesê strategiese prosesse is ingestel om beurtkrag te beëindig. Hy het ook die strategiese pogings deur die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, en sy span geloof. Mashatile waarsku egter dat ondanks vordering, onderhoud en nuwe kragstasieprojekte steeds ‘n bestendige energie-toevoer sal moet verseker:
# Die Wes-Kaapse regering sê hy hou die gure weerstoestande in die provinsie fyn dop. Swaar reën en stygende watervlakke op die Tuinroete laat kommer ontstaan oor moontlike oorstromings laer af in riviere. Damme word baie gou vol, veral aan die kus, en ‘n vlak vier-waarskuwing vir ontwrigtende reën bly van krag vir die oostelike dele van die provinsie. Premier Alan Winde sê die regering koördineer verligtingshulp om die uitwerking op gemeenskappe so laag as moontlik te hou:
# Die DA sê Suid-Afrika se waterkwessies beïnvloed onderwys, met talle gebiede wat versuim om voldoende watertoevoer te voorsien. Die party sê die JB Marks-munisipaliteit se infrastruktuur-probleme het daartoe gelei dat klasse by die Noordwes-Universiteit vir ‘n week afgestel is. Die DA loof die instelling se pogings om met aanlyn klasse voort te gaan, maar vra ‘n nasionale debat oor die krisis. Woordvoerder Solly Malatsi kritiseer ANC-beheerde munisipaliteite vir diensleweringsgebreke, en moedig studente aan om op 29 Mei vir verandering te stem:
# Die Rampverligtingstigting van AgriSA sê Suid-Afrika staan voor ‘n voedselverkwistingskrisis. Die land gooi jaarliks nege-miljard-kilogram kos weg, teen ‘n koste van 61,5-miljard-rand en dit vererger voedselonsekerheid. Vrugte en groente dra grootliks hiertoe by, met een uit elke vyf onvolmaakte produkte wat op stortingsterreine beland. Ondanks hierdie uitdagings versprei veldtogte soos OneFarm Share misvormde produkte en voorsien meer as 19,6-miljoen-kilogram vars produkte en 86-miljoen maaltye. AgriSA het ‘n vennootskap aangegaan met AVBOB, McCain en OneFarm Share om die vermorsing van voedsel te verhinder en volhoubare verbruik te bevorder.
# Krieket: Nieu-Zeeland en Engeland gaan aan die einde van jaar in drie toetse kragte meet. Die Nieu-Zeelandse krieketraad sê hulle hoop om groot skares te lok, net soos toe Australië vroeër vanjaar daar getoer het. Die uitvoerende hoof, Scott Weening, sê kaartjieverkope het tot en met die toer nie die gewildheid van toetskrieket in die land weerspieël nie. Die eerste toets begin op 28 November in Christchurch, gevolg deur die tweede een in Wellington van 6 Desember af, met die derde toets in Hamilton wat op die 14de Desember sal begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 20-rand-8-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-704-dollar-75-sent. Die prys van goud is twee-duisend-356-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….