Nuus 16:00
BULLETIN 9 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris se bewerings word na drie belangrike parlementêre komitees verwys
# Meer as 12-duisend owettige vuurwapens word vernietig
# En rugby: Jasper en Cobus Wiese kan die 37ste paar broers word om vir die Bokke te speel
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het drie parlementêre komitees gevra om dringend ondersoek in te stel na die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings, insluitend van politieke inmenging deur die minister van Polisie, Senzo Mchunu. Die komitees oor Polisie en oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, en die gesamentlike staande komitee oor Intelligensie is versoek om die bewerings te bekyk, wat nasionale veiligheidskwessies behels. Didiza sê dis nie gepas om nou ‘n parlementêre debat oor die saak te hou nie, omdat daar nog nie bewyse is nie.
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê altesaam 12-duisend-499 onwettige vuurwapens van reg oor die land is vandag in Gauteng vernietig. Masemola het gepraat tydens die geleentheid by Cape Gate-staal in Vanderbijlpark. Hy sê die meeste van die wapens, naamlik vyfduisend-en-99, kom uit Gauteng, gevolg deur die Wes-Kaap met twee-duisend-333 en KwaZulu-Natal met een-duisend-574. Masemola sê eenduisend-432 vuurwapens kom uit die Oos-Kaap en 460 uit die Vrystaat:
# Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid se opname oor handelstoestande vir Mei en Junie dui aan dat saketoestande verswak het. Dit het vroeëre verbeterings in Maart en April omgekeer. Terwyl 51-persent van deelnemers gesê het omstandighede is beter as ‘n jaar gelede, verwag slegs 62-persent ‘n verbetering tydens die volgende ses maande, ‘n daling van die 69-persent in Mei. Die swak ekonomie, hoë werkloosheid en wêreld-onsekerheid plaas groot druk druk op verwagtinge. Ondanks lae inflasie en sekere positiewe aanwysers soos voertuigverkope, bly handelsverwagtinge versigtig en ongelyk oor alle sektore heen.
# Die DA in die Wes-Kaap sê die groei in die toerismeseisoen wys die uitwerking van gekoördineerde belegging, infrastruktuur en strategiese bevordering. Die 2024/25-plesierbootseisoen het 1,32-miljard-rand tot die plaaslike ekonomie bygedra en twee-duisend werksgeleenthede ondersteun. Altesaam 83 plesierbote het vasgemeer, waarvan dit 11 se eerste besoek was. Die aantal passasiers en bemanningslede het met 16-persent toegeneem. Noko Masipa van die DA sê toerisme is ‘n belangrike sektor in die provinsie se ekonomiese plan:
# Rugby: Jasper en Cobus Wiese word dalk die 37ste paar broers om Suid-Afrika te verteenwoordig indien hulle Saterdag saam op die veld is in die tweede toets teen Italië in Gqeberha. Agsteman Jasper het reeds 28 wedstryde vir die nasionale span gespeel en is in die opdrafspan gekies. Cobus, wat slot of flank vir die Bulle speel, kan moontlik sy toetsbuiging van die bank af maak. Jaden en Jordan Hendrikse was in November teen Wallis die laaste broers wat saam vir die Bokke gespeel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-89-sent teen die euro en 24-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-500-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-289-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….