Nuus 15:00
BULLETIN 4 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die staat bevestig Mapisa-Nqakula staan tereg op 12 aanklagte van bedrog en korrupsie
# Mamabolo herbevestig die ondertekening van die Verkiesingsgedragskode is ‘n openbare belofte deur politieke partye
# En, motorsport: Vettel skimp oor ‘n terugkeer na F1 na samesprekings met Mercedes
# Staatsaanklaers wil hê die korrupsiesaak teen die voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, moet na die Hooggeregshof oorgeplaas word. Haar eerste verskyning is in die Landdroshof in Pretoria waar sy tereg staan op 12 aanklagte van korrupsie en een van geldwassery. Die staatsaanklaer, Bheki Manyathi, het bevestig die staat is nie gekant teen borgtog vir Mapisa-Nqakula nie:
# Die hoofverkiesingsbeampte, Sy (Saai) Mamabolo, beklemtoon die ondertekening van die Verkiesingsgedragkode is ‘n openbare belofte deur politieke partye en onafhanklike kandidate voor die algemene verkiesing. Ongeveer 27-miljoen kiesers wat in aanmerking kom, kan op 29 Mei hulle kruisies trek. Mamabolo het op die Gallagher-landgoed in Midrand, Johannesburg, partye se onderneming beklemtoon om by die kode te hou. Hy onderstreep ook aanspreeklikheid vir oortredings:
Intussen sê die ACDP alle ANC-kaders met geloofwaardige bewerings teen hulle moet hulself nou van die ANC se lyste verwyder omdat die versuim om dit te doen, die Parlement se integriteit en bevoegdheid verder skaad. Dit volg ná Mapisa-Nqakula se bedanking as speaker. Die ACDP-lid, Marie Sukers sê die sewende Parlement kan nie bekostig om die foute van die sesde administrasie te herhaal nie:
# Meer as 600 Britse regslui, wat drie voormalige Hoërhof-regters insluit, het hul regering aangemoedig om wapenverkope aan Israel te staak. Hulle glo dit kan die land aandadig maak aan volksmoord in Gaza. Reuters berig die Britse eerste minister, Rishi Sunak, is onder toenemende druk om die verkope te staak nadat Israelse soldate dié week drie Britse burgers saam met vier ander hulpverlenings-werkers vermoor het. Die regslui sê die verskaffing van militêre bystand aan Jerusalem kan ernstige oortredings van internasionale humanitêre reg daarstel.
# Motorsport: Die Duitse jaer Sebastian Vettel word genoem as die moontlike plaasvervanger van Lewis Hamilton by die Formule Een-span Mercedes. Die Brit het vroeër vanjaar aangekondig hy gaan volgende seisoen by Ferrari aansluit, en Mercedes het nog nie ‘n ander renjaer aangekondig nie. Die 36-jarige Vettel het na die 2022-seisoen uitgetree na vier agtereenvolgende titels vir Red Bull van 2010 tot 2013, en het ook gejaag vir Ferrari en Aston Martin. Hy het volgens berigte geskimp oor sy terugkeer na onlangse samesprekings met Mercedes se uitvoerende hoof, Toto Wolff.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-63-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-291-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-294-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….