Nuus 15:00
BULLETIN 3 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die saak teen ‘n senior MK-partylid is oorgeplaas na die Streekhof in Durban
# Beurtkrag bly steeds opgeskort
# En, krieket: Die Kampioeneliga-T20 keer dalk terug na ‘n afwesigheid van 10 jaar
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê die saak teen die senior uMkhonto we Sizwe-partylid, Visvin Reddy, wat van die oortreding van die Wet op Oproerige Byeenkomste aangekla word, is na die Streekhof in Durban oorgeplaas. Hy het met moontlike burgerlike onrus gedreig indien die party nie op die stembrief vir die algemene verkiesing in Mei gelys word nie. Die NVG se woordvoerder, Natasha Ramkisson-Kara, sê Reddy het vandag in die Landdroshof in Chatsworth verskyn omdat hy na bewering openbare geweld aangehits het:
# Die enigste oorlewende van die noodlottige busongeluk in Limpopo, die agtjarige Lorraine Atlang Siako, is uit die Mokopane-hospitaal ontslaan en per helikopter na Botswana vervoer. Dit volg ná verlede week se ongeluk toe ‘n bus wat lede van die Zion Christian Church na Moria vervoer het vir ‘n Paasfees-pelgrimstog, naby Mmamatlakala omgeslaan en aan die brand geslaan het. Limpopo se LUR vir Gesondheid, Phophi Ramathuba, het Botswana se hoëkommissariaat geloof vir sy vinnige bystand om Lorraine se veilige terugkeer te verseker:
# Beurtkrag bly opgeskort tot verdere kennisgewing, nadat daar meer as ‘n week lank geen kragonderbrekings was nie. Eskom sê dit is weens volgehoue beskikbare opwekkingsvermoë, genoegsame noodreserwes en die verwagte matige vraag die res van die week. Die kragvoorsiener sal Vrydag ‘n stelselopdatering gee of enige beduidende veranderings deurgee, sou dit nodig raak. Altesaam twee-duisend-365-megawatt sal volgens beplanning teen Vrydagaand weer beskikbaar wees.
# Krieket: Daar is ‘n goeie kans die Kampioeneliga-T20 kan herleef na ‘n afwesigheid van tien jaar. Dit volg op aktiewe gesprekke tussen die beheerliggame van Australië, Engeland en Indië. Die uitvoerende hoof van Krieket Victoria in Australië, Nick Cummins, sê die kompetisie was sy tyd vooruit, maar het nou genoeg ontwikkel om terug te keer. Hulle probeer net ‘n tydgleuf kry in die baie besige internasionale skedule. Die liga is jaarliks gespeel van 2009 tot 2014, met tien konsessies van verskeie lande wat deelgeneem het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-901-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-271-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-56-sent per vat.
# En ten slotte: Die Amerikaanse sangeres en liedjieskrywer Taylor Swift het die eerste kunstenaar geword wat dollar-miljardêrstatus bereik, net gegrond op musiek. Die gerekende Amerikaanse saketydskrif Forbes beraam haar fortuin op ‘n verstommende 1,1-miljard-dollar, of 20,8-miljard-rand. Ander kunstenaars, soos Rihanna en Jay-Z, se fortuine berus deels op hulle vermaak-belange en mode-handelsmerke. Die 34-jarige Swift het haar eerste miljard-dollar-toer aangebied, haar voortgesette Eras Tour, en besit ‘n reuse-eiendomsportefeulje. Haar volgende album, The Tortured Poets Department, verskyn later die maand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….