Nuus 15:00
BULLETIN 19 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbeki ontken politieke inmenging om oortreders uit die apartheid-era te beskerm
# Die Franse polisie erken hul het beheer verloor namate die onrus versprei
# En krieket: Reën verhoed ook spel op die tweede oggend van die tweede toets
# Oudpresident Thabo Mbeki het voor die Khampepe-kommissie getuig hy het verskeie aansoeke om presidensiële kwytskelding goedgekeur. Die kommissie ondersoek bewerings van politieke inmenging in sake van die Waarheids-en-Versoeningskommissie. Mbeki sê hy het 33 gevangenes kwytgeskeld, insluitend ANC- en PAC-lede wat skuldig bevind is aan ernstige misdade. Kritici voer aan van die kwytskeldings het die WVK se amnestieproses omseil. Mbeki het op vrae van getuienisleier Ishmael Semenya ontken dat hy apartheid-era oortreders probeer beskerm het:
# Forum for South Africa het kommer uitgespreek oor toenemende spanning tussen Pretoria en Washington en die moontlike uitwerking op werksgeleenthede. Amerika sal na verwagting volgende maand besluit of Suid-Afrika deel van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika bly. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê hulle is ook bekommerd oor die rol van sogenaamde regse burgerlike organisasies soos AfriForum en Solidariteit wat volgens hom ‘n misleidende prentjie van Suid-Afrika in Amerika skilder:
# Die DA beweer ‘n verklikker se toetse het cholera-bakterieë gevind in Bronkhorstspruit se watersuiwerings-aanleg. Woordvoerder Cilliers Brink vra Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, om watergehalte-uitslae bekend te maak en sê inwoners moet weet of die water veilig is. Meer as 160 mense is glo in die hospitaal opgeneem. Brink sê die stad het voor die uitbreking drie weke lank versuim om die water te chlorineer. Hy sê hulle gaan vandag strafregtelike klagte indien:
Nuus uit die buiteland:
# Frankryk se minister van Binnelandse Sake, Laurent Nuñez, erken die polisie het in sekere groot stede beheer verloor tydens onluste te midde van toenemende druk om die orde te herstel. Hy sê hulle het nie die omvang van die geweld voorsien nie, ondanks die ontplooiing van 60-duisend veiligheidsbeamptes. Meer as twee-duisend-500 mense is aangekeer en byna ‘n duisend veiligheidsbeamptes beseer. President Emmanuel Macron het vroeër Nuñez se bedanking verwerp en ‘n dringende ondersoek gelas. Marseille het openbare byeenkomste vandag agt-uur lank verbied te midde van toenemende oproepe vir ‘n aandklokreël.
# Krieket: Reën veroorsaak steeds chaos in die tweede toets tussen Suid-Afrika en Australië in Gqeberha. Minder as 13 boulbeurte is gister op die eerste dag geboul, en vanoggend se spel is ook verlore weens reën en ‘n nat veld. Die Proteas was gister op 20 vir twee nadat Scott Boland die paaltjies geneem het van Aidan Markram vir elf en David Bedingham vir ‘n nulletjie. Australië het die eerste van drie toetste in Durban met 214 lopies gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-44-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-71-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-170-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 110-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….