Nuus 15:00
BULLETIN 28 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Gespesialiseerde span pak die nasionale wateruitdagings aan
# Die suidwaartse verkeer na Durban sal na verwagting geleidelik toeneem
# En, gholf: Kaapstad en die SA-vroue-ope sluit ‘n nuwe vennootskapsooreenkoms
# Die Kabinet het die stigting aangekondig van ‘n gespesialiseerde taakspan wat toegewy is om die dringende wateruitdagings die hoof te bied. Die span, bestaande uit verteenwoordigers van departemente soos Water en Sanitasie, Landbou, en Openbare Werke en Infrastruktuur, sal strategieë uitdink en oplossings vir die land se ingewikkelde waterkwessies instel. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het op ‘n nuuskonferensie gesê met waterskaarste wat al dringender word, beklemtoon die stigting van hierdie span die regering se verbintenis om die probleem dadelik aan te pak:
# Die N3-tolkonsessie sê suidwaartse verkeer na Durban sal vandag na verwagting geleidelik toeneem op die N3-tolroete tussen Gauteng, die Vrystaat en KwaZulu-Natal, met swaar verkeerstoestande van tussen een-duisend en een-duisend-500 voertuie per uur in die middag en aand. Dié besige toestande behoort môre voort te duur van vroegoggend tot omtrent 12-uur. Die bedryfsbestuurder, Thania Dhoogra, sê hulle sal regdeur die Paasnaweek op ‘n hoë gereedheidsvlak wees:
# Gevegte en bombardering gaan voort in die Gazastrook nadat Amerika en Israel ooreengekom het om samesprekings te hervat wat vroeër afgelas is. Spanning tussen die lande neem toe weens Amerikaanse kritiek op Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu. Dit hou verband met die burgerlike sterfesyfer in Gaza, uitmergelende voedseltekorte en Israel se plan om sy grondaanslag na Rafah uit te brei. Die gevegte duur voort ondanks Maandag se bindende resolusie van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad wat ‘n onmiddellike skietstilstand eis, asook die vrylating van gyselaars.
# Gholf: Die Kaapstadse stadsraad het vandag goedkeuring verleen aan die Geleentheidsdepartement om die SA-vroue-ope die volgende drie jaar te borg. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê die nuwe ooreenkoms sal in werking tree net voor vanjaar se toernooi, wat volgende maand op die Erinvale-gholflandgoed in Somerset-Wes plaasvind:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-53-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-821-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-212-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-35-sent per vat.
# En, die Afrika-sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming het in 2024 altesame 44 siekte-uitbrekings aangemeld, met 104 gevolglike aktiewe epidemie-noodtoestande op die vasteland. Belangrike siektes sluit in cholera, masels, knokkelkoors, breinvliesontsteking, aappokke, witseerkeel en die Wes-Nylvirus. Cholera het na 15 lande versprei, met agt-duisend-440 bevestigde gevalle en 45-duisend-939 vermeende gevalle. Zambië is die swaarste getref, met 18-duisend-139 gevalle en 577 sterftes, terwyl Suid-Afrika net twee gevalle aangemeld het wat verbind word met Zimbabwe, en geen sterftes nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….