Nuus 15:00
BULLETIN 26 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Inligtingsreguleerder versoek versterkte databeskermingsmaatreëls deur die OVK
# Beurtkrag word vanmiddag 4-uur opgeskort
# En, sokker: Engeland sal naamlose hemde dra om bewustheid vir Alzheimersiekte te bevorder
# Die Inligtingsreguleerder sê ondersoeke is aan die gang ná sekerheids-oortredings by die Onafhanklike Verkiesingskommissie. Dit volg op ‘n ongemagtigde vrystelling van die ANC- en die MK-party se kandidatelyste en persoonlike inligting via WhatsApp, wat kommer wek voor die verkiesing. Die OVK se hantering van persoonlike inligting is gekritiseer, met die reguleerder wat maatreëls teen die kommissie oorweeg. Die reguleerder se uitvoerende hoof, Tshepo Boikanyo, het op ‘n nuuskonferensie gesê navrae is aan die OVK gerig, met ‘n omvattende sekerheids-evaluering wat reeds begin het:
# Cosatu het die multinasionale maatskappy Systems Applications Products, bekend as SAP, se ooreenkoms verwelkom om binne sewe dae 500-miljoen-rand aan Eskom terug te betaal weens korrupte kontrakte waarby Eskom na bewering betrek is. Cosatu se waarnemende woordvoerder, Matthew Parks, sê die federasie het die Tesourie aangemoedig om ‘n gedeelte van die verhaalde openbare fondse aan die Nasionale Vervolgingsgesag toe te wys. Hy sê dit sal die NVG in staat te stel om die oorlog teen misdaad en korrupsie te verskerp en diegene wat betrek word, voor die hof te daag:
Eskom het intussen aangekondig beurtkrag sal vanmiddag 4-uur opgeskort word. Danksy ses opwekkingseenhede wat terug in diens is en die beskikbare opwekkingsvermoë verbeter het, word beurtkrag tot môremiddag 4-uur opgeskort. Fase 2-beurtkrag word dus nie meer vanaf vanmiddag 4-uur ingestel soos voorheen deurgegee is nie. Eskom sal môremiddag weer inligting verskaf, of indien enige beduidende veranderings plaasvind.
# Die Johannesburgse burgemeester, Kabelo Gwamanda, voorspel belegging in die stad se aksieplan teen klimaatsverandering kan 340-duisend werksgeleenthede in versagting skep, en 77-duisend in aanpassing. Gwamanda het teenoor South African Dialogue on City Resilience die behoefte aan billike klimaatsbeleide beklemtoon. Hy sê die stad beoog om uitstralings en kwesbaarheid te verminder, in ooreenstemming met globale teikens. Die plan poog om internasionale befondsing vir groen herstel ná die pandemie te lok. Gwamanda beklemtoon die stad se verbintenis tot uitstralings-verminderings-teikens sluit in, 25-persent teen 2030, 75-persent teen 2040 en netto-nul teen 2050.
# Sokker: Engeland se spelers sal vandag sonder name op hul hemde speel tydens die tweede helfte van hul internasionale vriendskaplike wedstryd teen België in Londen. Dit is om bewusmaking oor die simptome van Alzheimersiekte te verhoog. Die spelers sê hulle wil wys hoe mense wat aan demensie ly, kosbare herinnerings kan verloor. Die plan is deel van die beheerliggaam, die F-A, se vennootskap met die Alzheimer-vereniging. Engeland gebruik die wedstryd as voorbereiding vir Euro 2024, en dit volg op die teleurstellende nederlaag teen Brasilië oor die naweek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-741-dollar-94-sent. Die prys van goud is twee-duisend-195-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….