Nuus 15:00
BULLETIN 9 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Schreiber skryf immigrasie-uitdagings aan teenstrydige hofuitsprake toe
# Bykomende martelingsaanklagte teen die afgesette president Nicolás Maduro en sy vrou in Amerika
# En krieket: Mulder slaan toe net voor middagete en Australië is nou 6 paaltjies plat in eerste toets
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê teenstrydige hofuitsprake oor asielsoekers het immigrasieprosedures bemoeilik. Een uitspraak bepaal asielsoekers moet vrygelaat word terwyl hulle aansoeke verwerk word, terwyl ‘n ander hul aanhouding toelaat. Schreiber het aan die SABC gesê die departement het die howe om duidelikheid genader. ‘n Volbank van regters sal na verwagting later hierdie maand oor die saak beslis. Schreiber waarsku die vrylating van mense wat vir onwettige toegang tot die land in hegtenis geneem is, kan die toepassing van immigrasiewetgewing ondermyn:
# Die Climate Finance Accelerator het 43 Suid-Afrikaanse ondernemings en projekte gehelp om befondsing van 1,6-duisend-miljard rand te bekom, met nog 30-miljoen-dollar wat daarna ingesamel is. GreenCape se bestuurder van die Groen-befondsingsprogram, Lisa Johannson, het die syfers tydens ‘n beleggersbyeenkoms in Kaapstad bekend gemaak. Die Britse-gesteunde inisiatief voorsien nie regstreekse befondsing nie, maar help ondernemings wat op klimaatoplossings fokus om gereed te wees om beleggings te lok. Agt ondernemings vanuit 146 aansoeke is vir die 2026-program gekies. Die ondernemings verteenwoordig sektore soos hernubare energie, volhoubare mobiliteit, die sirkulêre ekonomie en water.
# Die afgesette Venezolaanse president, Nicolás Maduro, en sy vrou, Cilia Flores, is aangekla van sameswering om politieke teenstanders en Amerikaanse burgers te martel. Die bykomende aanklagte is in ‘n Federale Hof in New York ingedien, benewens die bestaande aanklagte van dwelmhandel en vuurwapenverwante oortredings. Amerikaanse aanklaers beweer die egpaar het gehelp toesig hou oor ‘n stelsel van onderdrukking waarin aangehoudenes na bewering gemartel is om die opposisie te onderdruk en hul mag te behou. Albei ontken die oorspronklike aanklagte en het nog nie gepleit op die nuwe aanklagte nie. Amerikaanse magte het hul in Januarie gevange geneem.
# Open Tickets ontken bewerings dat ondersteuners in KwaZulu-Natal doelbewus verhinder is om kaartjies vir môre se MTN8-eindstryd tussen Mamelodi Sundowns en Orlando Pirates te koop. Die kaartjiestelsel het pas nadat verkope verlede Vrydag geopen het, die gees gegee wat tot frustrasie en bewerings van onregverdige toegang gelei het. Open Tickets se uitvoerende hoof, Marnus van Niekerk, sê egter alle ondersteuners het ‘n gelyke geleentheid gehad om kaartjies te koop en die onderneming se verkoopstatistiek staaf dit:
# Krieket: Wiaan Mulder van Suid-Afrika het Marnus Labuschagne met die laaste bal voor middagete been voor paaltjie betrap om sy tweede paaltjie te neem, met Australië op 84 vir drie op die openingsdag van die eerste toetswedstryd op Kingsmead. Mulder het twee paaltjies vir 17 lopies in agt boulbeurte geneem, terwyl Marco Jansen een vir 15 in agt boulbeurte behaal het. Die jongste beskikbare telling is Australië op 149 lopies vir die verlies van ses paaltjies, na 53 boulbeurte.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 18-rand-52-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-913-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-181-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….