Nuus 15:00
BULLETIN 20 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zuma se wapentransaksie-korrupsiesaak word tot Mei uitgestel vir ‘n voorverhoor-konferensie
# Judges Matter verwelkom die besluit om nie langer afgetrede regters vir die agterstand in howe te gebruik nie
# En, rugby: Die Bokke Etzebeth en Koch keer die naweek terug vir die Haaie
# Oudpresident Jacob Zuma se wapentransaksie-korrupsieverhoor is tot 17 Mei uitgestel vir ‘n voorverhoor-konferensie. Zuma se regsverteenwoordiger, Dali Mpofu, het voorgestel dat die verhoor onbepaald uitgestel word vir saakbestuur, en om die beskikbaarheid van ‘n advokaat te bepaal vir die pad vorentoe. Die vertraging volg op Zuma se onsuksesvolle poging om aanklaer Billy Downer van die saak te verwyder weens vermeende vooroordeel. Regter Nkosinathi Chili het bevind Zuma kon nie bewys dat Downer sy reg op ‘n regverdige verhoor sal skend nie:
# Judges Matter het die Konstitusionele Hof se besluit verwelkom om nie langer afgetrede regters vir verlof-tot-appèl-aansoeke te gebruik nie. Die besluit was daarop gemik om hof-agterstande in te haal. Hoofregter Raymond Zondo het die program beëindig weens afgetrede regters se onbeskikbaarheid. Die koördineerder van Judges Matter, Alison Tilley, stel voor ervare prokureurs moet in diens geneem word om regters in die Konstitusionele Hof by te staan:
# Jaarlikse verbruikersinflasie het in Februarie gestyg tot 5,6-persent. In Januarie het dit op 5,3-persent gestaan en in Desember op 5,1-persent. Produk-sektore wat die styging aangedryf het, sluit in behuising en nutsdienste, versekering, voedsel en nie-alkoholiese drankies, en vervoer. Statistieke SA sê daar was ‘n 10,3-persent maand-tot-maand-verhoging in mediesefonds-premies, terwyl alle soorte versekering ook die afgelope jaar toegeneem het. Eiers is 30,7-persent duurder as ‘n jaar gelede. Jaarlikse rys-inflasie het in Februarie verder gestyg tot 25-persent. Verskeie produkte is egter goedkoper as ‘n jaar gelede, soos broodmeel, beskuit, klaargemengde meel en pasta.
# Vakansiegangers word gewaarsku oor swaar verkeer op die N3 in die aanloop tot die Paasvakansie, met verhoogde wetstoepassing en verkeers-beheerpunte wat beplan word. Die verkeer suidwaarts na Durban sal na verwagting ‘n hoogtepunt bereik weens skole wat vandag sluit, en voortduur deur Menseregtedag en Paasnaweek. Noordwaartse verkeer kan op Paasmaandag toeneem. Padwerke sal minimaal wees om gladder verkeersvloei te verseker. Die N3-tolpad-konsessiemaatskappy moedig motoriste aan om vooruit te beplan en ‘n risikobestuursbenadering aan te neem om veiliger reise te verseker.
# Rugby: Die Haaie sal versterk word met die insluiting van twee Springbokke vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Ulster in Durban. Eben Etzebeth is terug nadat ‘n klein knie-operasie hom vir sewe weke op die kantlyn gehou het, terwyl Vincent Koch die eerste keer hierdie seisoen gaan speel. Die Stormers en die Bulle sal hoop die Haaie klop die Ierse span sodat hulle hul posisies op die punteleer kan verbeter. Die Stormers speel die naweek in Kaapstad teen Edinburgh, terwyl die Bulle in Wallis teen die Dragons speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-833-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-153-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….