Nuus 15:00
BULLETIN 6 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum ondersoek die brandstofheffings
# Gautengse Gesondheid verwerp berigte oor ‘n mediese rekening vir ‘n tweejarige in Steve Biko Hospitaal
# En krieket: Die IKR stel planne vir ‘n Wêreldklubkampioenskap uit ná teenkanting van Engeland, Australië en Indië
# AfriForum begin met ‘n ondersoek na Suid-Afrika se brandstofheffings en sê die regering versuim om op te tree. Woordvoerder Ernst van Zyl sê hul navorsingspan sal die algemene brandstofheffing, die koolstofheffing en die Padongelukkefonds-heffing ondersoek, insluitend hoe die geld bereken en bestee word. Hy beklemtoon stygende brandstofpryse verhoog finansiële druk op verbruikers, ondernemings en die ekonomie, maar die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het nog nie ‘n onafhanklike oudit bevestig nie:
ActionSA vra intussen dat Godongwana die brandstofheffing dringend hersien en verlaag. Woordvoerder Alan Beesley sê hoër brandstofpryse verhoog vervoerkoste, dus vermeerder voedselpryse en basiese dienste terwyl klein ondernemings en huishoudelike begrotings onder druk is. Hy sê die Inkomstediens het in 2025/26 ‘n netto-inkomste van net meer as twee-duisend-miljard-rand ingesamel, 24,7-miljard-rand meer as die verwagte bedrag, wat die weg baan vir tydelike verligting. ActionSA sê die maatreël kan help om druk op huishoudings en sukkelende ondernemings te verlig.
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê berigte oor die mediese koste vir die behandeling van ‘n tweejarige seun in die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria is verkeerd. Die kind is onder die Hospitaalgroep-kategorie geklassifiseer. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê volgens die standaardregulasies vir openbare gesondheid in Suid-Afrika is alle kinders onder ses ten volle uitgesluit van mediese en hospitaalkoste:
Nuus uit die buiteland:
# Australië se opposisiekoalisie van die Liberale en die Nasionale Party beloof die grootste vermindering in immigrasie in die land se geskiedenis indien hulle aan bewind kom. Opposisieleier Angus Taylor sê netto-migrasie sal die eerste twee jaar tot 100-duisend per jaar verlaag word en teen die vierde jaar tot 160-duisend styg. Tydelike visums sal oor vier jaar met 650-duisend verminder, terwyl die aantal plekke vir humanitêre migrante gehalveer word tot 10-duisend. Internasionale studentegetalle sal beperk en die tydelike gegradueerde visumprogram geskrap word. Die koalisie sê hy fokus eerder op geskoolde werkers.
Nou sportnuus:
# Die Internasionale Krieketraad het planne tot minstens 2031 uitgestel om ‘n Wêreldklubkampioenskap en bykomende internasionale toernooie in te stel. Dit volg op teenkanting van Engeland, Australië en Indië, wat aanvoer daar is nie plek op die kalender vir nog byeenkomste nie, tensy bestaande toernooie soos Wêreldbekertoernooie en die Kampioene-trofee verwyder word. Die IKR se poging om nuwe kompetisies in te stel het ontstaan vanweë ‘n dringende behoefte om sy inkomste te verhoog, want wêreldwye mediaregte se inkomste sal van volgende jaar na verwagting aansienlik daal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-259-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-169-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….