Nuus 15:00
BULLETIN 5 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Regterlike Dienskommissie begin met onderhoude om drie vakatures in die Appèlhof te vul
# ‘n Ontvoerde man is ongedeerd in Randfontein gevind
# En rugby: Die terugkerende Springbokke kan die Stormers se span versterk vir die derby teen die Haaie
# Die Regterlike Dienskommissie begin vandag in Sandton, Johannesburg, met onderhoude om drie vakatures in die Appèlhof te vul. Vyf kandidate sal vir Suid-Afrika se tweede hoogste hof ondervra word: regters Gerald Bloem, Busisiwe Masipa, Ingrid Opperman, Violet Phatshoane en Esther Steyn. Hoofregter Mandisa Maya sal die proses van twee weke lei om 22 vakatures in hoër howe te vul. Die onderhoude vir die Appèlhof is van kritieke belang te midde van kritiek oor vertraagde uitsprake en vermoëns-beperkings.
# ‘n Ontvoerde man is ongedeerd gevind in Randfontein, Gauteng, en vyf verdagtes in hegtenis geneem ná ‘n intelligensiegedrewe operasie. Die ongenoemde man is na bewering op 30 Augustus in die Johannesburgse middestad ontvoer, waarna ‘n losprys van 32-miljoen-rand geëis is. Polisiewoordvoerder Dimakatso Nevhuhulwi sê ‘n span speurders van Johannesburg-Sentraal, Misdaadintelligensie, die Teenontvoeringseenheid, die Blitspatrollie en privaat veiligheidsondernemings het drie mans betrap met die selfoon waarmee die losprys na bewering geëis is:
# Ekurhuleni se burgemeesterskomiteelid vir Finansies en Strategie, Jongizizwe Dlabathi, sê die Gautengse metro se begroting van 70,9-miljard-rand vir die nuwe boekjaar sal sy vermoë versterk en herstel om sy funksies uit te voer. Die metro pak tekortkominge in inkomste-invordering en druk op sy kontantvloei aan. Dlabathi sê die stad het sy leningsbehoeftes verminder, terwyl daar gefokus word op die regstelling van rekeningstelsels, die verbetering van bestuur en die instandhouding van infrastruktuur:
Nuus uit die buiteland:
# Oekraïne is onder toenemende druk om geld te vind om sy oorlog voort te sit namate Russiese aanvalle sleutelbedrywe lamlê. Oekraïne het die eerste nege maande van vanjaar bykans 740-miljard-rand aan verdediging bestee, maar net meer as 700-miljard-rand se belastinginkomste ingevorder. Die regering benodig befondsing van 935-miljard-rand, wat sowat 450-miljard-rand vir militêre uitgawes insluit. Russiese aanvalle het ook fabrieke, hawens en spoorweë getref, terwyl graanuitvoere skerp afgeneem het. Oekraïne is op soek na bykomende buitelandse befondsing en wil gevriesde Russiese bates aanwend om die tekort te help oorbrug.
# Rugby: Die Stormers se direkteur van rugby, John Dobson, beplan om sy span te versterk met terugkerende Springbokke vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-tuisderby teen die Haaie. Die Kaapstadse span het sy eerste wedstryd van die seisoen in Ierland teen Connacht gewen, maar daarna in Skotland vasgeval teen Edinburgh. Die Bokke wat vir hulle derde ronde-kragmeting oorweeg kan word, is Sacha Feinberg-Mngomezulu, Damian Willemse, Wilco Louw, Paul de Villiers, Deon Fourie en Cobus Reinach. Dobson sê hulle sal veral hul lynstaanprobleme moet oplos teen die Haaie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-61-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-187-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-164-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….