Nuus 15:00
BULLETIN 2 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die likwidasie van ondernemings daal met 15,3-persent in Augustus
# Ongeveer 400 Franse skole sluit weens gewelddadige betogings
# En rugby: Die Stormers en Edinburgh skop vanaand die naweek se Verenigde Rugbykampioenskapsaksie af in Skotland
# Statistiek Suid-Afrika sê die aantal likwidasies het in Augustus met 15,3-persent afgeneem, vanaf 268 tot 227. Twee-en-dertig ondernemings het gelikwideer en likwidasies van beslote korporasies het met nege afgeneem. Woordvoerder Onica Mushwana sê likwidasies was 13,7-persent minder in die drie maande tot Augustus, en 6,4-persent in die eerste agt maande vanjaar, vergeleke met dieselfde tydperke verlede jaar:
# Die ANC sê die DA en ActionSA het die Stad Johannesburg se finansieringsplan vir sy kapitaalprogram versper. Hy sê dit sou help om infrastruktuurprojekte vir elektrisiteit, water, paaie en vervoer te finansier as deel van ‘n program van 25-miljard-rand. ANC-woordvoerder Mantombi Nkosi sê die twee partye kan nie kla oor kragonderbrekings, wateronderbrekings en slaggate, maar stem teen die fondse om dit te herstel, of versuim om ‘n alternatief voor te stel nie:
Nuus uit die buiteland:
# Sowat 400 skole en ander opvoedkundige instellings in Frankryk sal na verwagting vandag gesluit bly met leerderbetogings oor onderwysertekorte en vervalle skoolgeboue wat in sekere gebiede gewelddadig geraak het. Die betogings het verlede maand in die omgewing van Parys begin en landwyd versprei. Tientalle mense is beseer en die polisie het reeds honderde in hegtenis geneem. Betogers het gister twee hoërskole in Marseille aan die brand gesteek terwyl petrol in ‘n ander skool daar per ongeluk op onderwysers beland het. Die polisie en jeugdiges in Toulouse het ook slaags geraak.
# Rugby: Die Stormers en Edinburgh skop vanaand die naweek se Verenigde Rugbykampioenskapsaksie af in die Skotse hoofstad. Môre kom die Leeus in Johannesburg teen die Ospreys te staan, die Haaie speel in Durban teen Leinster, en die Bulle speel teen Munster in Ierland. Al vier Suid-Afrikaanse spanne het die seisoen op ‘n positiewe noot begin deur hul openingswedstryde te wen. Die Bulle loop tans voor op die punteleer, gevolg deur die Haaie en die Stormers, terwyl die Leeus in die sewende plek is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-71-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-453-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-184-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: Die afgetrede Konstitusionele Hof-regter Mbuyiseli Madlanga het universiteite geprys vir hul rol in die vorming van toekomstige leiers en die bevordering van openbare diens. Hy het tydens die Universiteit van Fort Hare se lentegradeplegtigheid in Alice in die Oos-Kaap gepraat, waar ‘n eredoktorsgraad in die regte aan hom toegeken is. Madlanga het die erkenning beskryf as ‘n voorreg wat hy met groot nederigheid aanvaar, en moedig gegradueerdes aan om aan te hou om ‘n bydrae tot die samelewing te lewer en die openbare belang te dien:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….