Nuus 15:00
BULLETIN 1 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voorsitter van die Staatsdienskommissie waarsku oor doelbewuste korrupsie in staatsinstellings
# Die Zimbabwiese sakemagnaat Wicknell Chivayo en sy vrou sterf in ‘n helikopterongeluk
# En krieket: Honderd-56 spelers is te koop op ‘n veiling vir SA20 se vyfde seisoen
# Die voorsitter van die Staatsdienskommissie, Somadoda Fikeni, waarsku korrupsie en ingewortelde mislukkings in Suid-Afrika is nie toevallig nie. Hy het die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Openbare Administrasie en Bestuur in Durban toegespreek. Fikeni sê ondoeltreffendheid kan ‘n winsmodel word vir diegene wat daarby baat vind. Hy beskryf dit as ‘n politieke ekonomie van ondoeltreffendheid, waarin stelselmatige vertragings, knelpunte en swak uitvoering geleenthede vir korrupsie skep:
# ActionSA verwelkom die Verkiesingskommissie se beëdigde antwoord wat ingedien is teen die DA se aansoek in die Kieshof. Die party sê dit bevestig sy standpunt dat die DA se saak opportunisties, huigelagtig en ligsinnig is. Die DA voer aan die EFF, die MK-party, ActionSA en die GOOD-party het doelbewus kandidate vir kiesers verberg deur in sekere munisipaliteite slegs een kandidaat op hul proporsionele verteenwoordigingslyste in te dien. ActionSA sê die hofaansoek berus op ongegronde afleidings van die feite en die reg, en is ‘n vermorsing van tyd.
# Die vakbondfederasie COSATU in Gauteng eis ‘n omvattende ondersoek nadat ‘n helikopter-vlieënier vroeër die week ‘n pletterlanding gedoen het tydens ‘n grootskaalse klopjag op onwettige mynbou in Maphahla naby Fochville. Dit het plaasgevind tydens ‘n gesamentlike wetstoepassingsoptrede, Operasie Prosper/Karabo, waartydens 121 vermeende onwettige mynwerkers aangekeer en beslag gelê is op vyf vuurwapens. COSATU se provinsiale voorsitter, Amos Monyela, wil weet wat verkeerd geloop het en of behoorlike prosedures gevolg is:
In Zimbabwe is die plaaslike sakemagnaat Wicknell Chivayo en sy vrou dood in ‘n helikopterongeluk naby Marondera, oos van Harare. Daar was ses mense aan boord en geen oorlewendes nie. Chivayo was bekend vir sy uitspattige leefstyl, noue bande met president Emmerson Mnangagwa en ander Afrika-leiers, asook winsgewende staatskontrakte wat onder die soeklig was. Daar was ook bewerings dat sy sakebedrywighede verband gehou het met openbare verkryging en verkiesingsfinansiering, wat hy ontken het. Die polisie sê die oorsaak van die ongeluk is onbekend en die ondersoek duur voort.
# Krieket: Die ervare plaaslike spelers Faf du Plessis, Rassie van der Dussen en Wiaan Mulder is beskikbaar op volgende week se veiling vir SA20 se vyfde seisoen. Honderd-56 spelers is op die kortlys nadat 789 aansoeke ontvang is. Vyf-en-negentig Suid-Afrikaners en 61 oorsese spelers is beskikbaar vir vier spanne. Durban’s Super Giants en Paarl Royals het reeds hulle groepe van 19 afgehandel en neem nie deel nie. Dewald Brevis het verlede jaar die rekord oortref vir die hoogste prys toe Pretoria Capitals hom vir 16,5-miljoen-rand gekoop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-58-sent teen die dollar, 18-rand-70-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-751-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-170-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….