Nuus 15:00
BULLETIN 30 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Rasseverhoudings sê die meeste Suid-Afrikaners verwerp bewerings oor ‘n ‘wit volksmoord’
# Sokker: Mosimane is lugtig vir Eritreë voor hulle Afrikabeker-kwalifiseerder
# En ‘n gestrande haai word ‘n toeriste-trekpleister in Suid-Korea
# Die Instituut vir Rasseverhoudings sê die meeste Suid-Afrikaners verwerp bewerings van ‘n wit volksmoord. ‘n Opname in Maart toon 72-persent van deelnemers stem nie met die bewering saam nie, teenoor 19-persent wat saamstem. Die opname het ook bevind 70-persent van deelnemers wil nie hê die regering moet rassekategorieë uit die apartheidsjare gebruik om te bepaal wie werk en sakegeleenthede ontvang nie. Hermann Pretorius van die instituut sê 89-persent glo mense van verskillende rasse het mekaar nodig om vordering te maak en moet gelyke geleenthede hê.
# TLU SA sê die meesterplan vir landbou en landbou-verwerking moet op ‘n sterker ekonomiese grondslag gebou word voor die inwerkingstelling versnel word. Die landbou-organisasie wil ook duidelikheid hê oor hoe hervorming by die plan ingesluit sal word sonder om die volhoubaarheid van die landbousektor te ondermyn. Die hoofbestuurder, Bennie van Zyl, sê boerdery moet winsgewend en volhoubaar bly, met inagneming van belegging, eiendomsreg en toegang tot markte:
# Die Madlanga-kommissie het die taxi-eienaar van Mpumalanga, Joe “Ferrari” Sibanyoni, uitgevra oor sy opmerkings aan president Cyril Ramaphosa en die minister van Minerale en Petroleumhulpbronne, Gwede Mantashe, oor die stryd rondom ‘n 30-persent-aandeel in PUTCO se busbedrywighede. Hy het na bewering gesê indien hul van inmenging by PUTCO hoor, moet hul weet dit kom van hom. Sibanyoni verduidelik hy het tydens ‘n gemeenskapsvergadering namens die KwaNdebele-gemeenskap met Ramaphosa gepraat:
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Pitso Mosimane, sê hulle sal Eritreë nie ligtelik opneem in vanaand se tweede Afrikabeker-kwalifiseerder in Kaïro, Egipte, nie. Suid-Afrika het sy veldtog die afgelope naweek afgeskop deur Guineë 2-1 te klop, terwyl Eritreë met 1-elk gelykop gespeel het teen Kenia in die ander groep D-wedstryd. Mosimane het die Eritrese doelskieter Ali Suleiman, wat in Egipte gebaseer is, geïdentifiseer as die speler om dop te hou. Hy sê hy is vinnig en dodelik op vaste fasette, en kan vanuit enige hoek doele aanteken.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-718-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-184-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-57-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Haai van 3,5-meter wat in ‘n kanaal in die Suid-Koreaanse hawestad Busan vasgekeer is, het binne twee weke sowat 600-duisend besoekers gelok. Die koperhaai met die bynaam Bukangi is op 18 September die eerste keer in die Noordhawe opgemerk. Owerhede het gister probeer om hom terug see toe te lei met vyf vaartuie wat waterstrale agter hom spuit, maar hy het herhaaldelik weggeswem. ‘n Reddingspoging word later die week beplan met ‘n spesiaal-vervaardigde net. Busan het Bukangi selfs as ‘n ere-ambassadeur van die stad aangewys.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….