Nuus 15:00
BULLETIN 11 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom is vol vertroue in sy poging om die intensiteit van beurtkrag te verminder
# Die ANC se kandidatelys toon verskeidenheid en tussen-geslagtelike verteenwoordiging
# En, krieket: Australië beklink die toetsreeks teen Nieu-Seeland 2-nul
# Eskom het sy vertroue uitgespreek in sy pogings om die intensiteit van beurtkrag in die nabye toekoms te verminder. Volgens die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramakgopa, is baie van die beplande instandhouding wat tans gedoen word, ‘n stap in die regte rigting om kragonderbrekings en die erns van kragonderbrekings regoor die land uit te wis. Die minister sê alles is op dreef en in ooreenstemming met die Energie-aksieplan:
# Die ANC sê hy het streng kriteria gebruik om die integriteit en geloofwaardigheid te verseker van sy kandidate vir die nasionale en provinsiale verkiesing. Kandidate moet nie enige hangende hofsake of dissiplinêre verhore hê nie sodat hulle ten volle kan fokus op hulle verantwoordelikhede. Die party se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het aan die media gesê die lys toon verskeidenheid, inklusiwiteit en ervare persone, gekies tydens ‘n deeglike en deursigtige proses wat die party se toewyding aan organisatoriese vernuwing weerspieël:
# FNB en die Buro vir Ekonomiese Navorsing se Boubedryf-vertroue-aanwyser het in die eerste kwartaal van 2024 met 16-punte geval tot ‘n vlak van 27. In die vierde kwartaal van 2023 het dit ‘n agt-jaar hoogtepunt bereik. Dit verteenwoordig die gesamentlike laagste vlak sedert middel-2020. Volgens FNB het vertroue gedaal in verskeie subsektore, met argitekte wat ‘n aansienlike afname beleef het. Hoof-kontrakteurs en bourekenaars het ‘n effense oplewing beleef, maar steeds onderpresteer te midde van uitdagings soos onvoldoende vraag en ‘n tekort aan geskoolde arbeid.
# Krieket: Australië het die toetsreeks teen Nieu-Seeland 2-nul beklink met ‘n spannende oorwinning in die finale wedstryd in Christchurch. Die gashere het ‘n baie swak eerste beurt van net 162 oorkom en in hulle tweede beurt 372 aangeteken. Die besoekers, wat 256 aangeteken het in hulle eerste beurt, moes 279 lopies kry om te wen, en het dit reggekry met net drie paaltjies nog staande. Alex Carey het ‘n onoorwonne 98 bygedra en Mitchell Marsh 80, terwyl Ben Sears vier paaltjies platgetrek het. Australië het die eerste toets in Wellington met 172 lopies gewen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 24-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-652-dollar-18-sent. Die prys van goud is twee-duisend-176-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-71-sent per vat.
# En, die fliek Oppenheimer het uitgeblink by die Oscars, maar in Hiroshima, wat in 1945 verwoes is deur die eerste atoombom, is dit moeiliker om vrede te maak met die rolprent oor die vervaardiger van die bom. Die president van die Japanse stad se internasionale filmfees, Kyoko Heya, vra of dit regtig ‘n fliek is wat die mense van Hiroshima bereid is om te beleef. Ongeveer 140-duisend mense is in die stad dood toe Amerika dit met ‘n atoombom aangeval het. Oppenheimer sal uiteindelik op 29 Maart in Japan vrygestel word. Heya het aan AFP gesê sy het die rolprent ervaar as “baie Amerika-gerig”.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….