Nuus 15:00
BULLETIN 25 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mteto Nyati se termyn as Eskom se raadsvoorsitter word verleng
# Die bek-en-klouseer-uitbreking kan Namibië 1,8-miljard-rand kos
# En rugby: Joseph Suaalii word die eerste keer op vleuel gekies vir die Wallabies
# Die kabinet het die termyn van Eskom se raads-voorsitter met nog drie jaar verleng. Mteto Nyati het tydens die bekendstelling van ‘Eskom 2.0’ sy dank uitgespreek teenoor president Cyril Ramaphosa en die kabinet vir die vertroue wat hulle in hom stel. Sy ampstermyn, wat volgende maand sou verstryk, sal nou tot 2029 duur. Nyati beklemtoon die land se ekonomiese potensiaal hang af van die verkryging van bekostigbare, betroubare en skoon energie:
# Die KwaZulu-Natalse polisie het ‘n verdagte vasgetrek in verband met die moord op nege mense in Sydenham in Oktober 2021. Ses mense is by ʼn huis in die Palmietweg-plakkerskamp doodgeskiet. Dieselfde aanvallers het na bewering dieselfde dag nog drie mense vermoor in twee afsonderlike voorvalle naby die toneel. Polisiewoordvoerder Robert Netshiunda sê die verdagte sou na verwagting vandag in die Durbanse Landdroshof verskyn:
Nuus uit die streek:
# Die uitbreking van bek-en-klouseer kan Namibië se ekonomie vanjaar en volgende jaar sowat 1,8-miljard-rand kos. Volgens Simonis Storm Research kan ekonomiese groei vanjaar tot ongeveer twee-persent daal, met die landwye verbod op die vervoer van lewende hawe as die belangrikste faktor. Uitvoere ter waarde van sowat 1,5-miljard-rand kan vanjaar verlore gaan, terwyl ongeveer 12-duisend werkjare geraak kan word. Die navorsing dui aan die uitvoere van hoëgehalte-beesvleis na die Europese Unie, Brittanje en Noorweë is besonder kwesbaar.
# ‘n Olieraffinadery in die suidweste van Rusland het werksaamhede tydelik gestaak nadat dit in ‘n hommeltuigaanval beskadig is. Die goewerneur van die Rostof-streek, Yuri Slyusar, sê Russiese lugverdedigingseenhede het oornag sowat 50 hommeltuie oor die streek vernietig. Daar was geen ongevalle in die raffinadery nie. Die aanval volg te midde van ‘n reeks Oekraïense hommeltuigaanvalle op Russiese nywerheids- en energie-aanlegte. Die Russiese Ministerie van Verdediging sê sy lugverdediging het oornag 592 hommeltuie oor verskeie streke vernietig. Oekraïne het nie onmiddellik kommentaar gelewer nie.
# Rugby: Joseph Suaalii sal op linkervleuel vir die Wallabies uitdraf in Sondag se toets teen die Springbokke in Perth nadat hy sy vorige 24 toetse op senter gespeel het. Afrigter Les Kiss het hom blykbaar verskuif omdat sy vermoë onder die hoë bal beter benut kan word in die nommer 11-trui. Max Jordensen begin op regtervleuel en Tom Wright op heelagter. Agsteman Harry Wilson is kaptein van Australië. Kiss het ‘n verdeling van ses voorspelers en twee agterspelers op die bank aangewys vir die eenmalige kragmeting.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-29-sent teen die dollar, 18-rand-58-sent teen die euro en 21-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-89-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-309-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 102-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….