Nuus 15:00
BULLETIN 23 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC wend hom tot die Konstitusionele Hof oor 181 verkiesingskandidate wat uitgesluit is
# Airbus mik na groei in die Suid-Afrikaanse en Afrika-mark
# En krieket: Maphaka is die vierde Protea-snelbouler wat onttrek aan die eendagreeks teen Australië
# Die ANC het hom tot die Konstitusionele Hof gewend in sy stryd oor 181 verkiesingskandidate wat uitgesluit is. Dit volg nadat die Kieshof verlede week die party se aansoek geweier het om die kandidate toe te laat vir die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November. Die party voer aan hulle besonderhede is voor die sperdatum van 28 Augustus op die Verkiesingskommissie se aanlyn stelsel vasgelê, maar administrateurs kon nie die finale indiening voltooi nie. Die saak word na verwagting op 7 Oktober aanhoor.
# Rise Mzansi veroordeel die moord op 11 mense, insluitend ‘n swanger vrou, en die besering van drie in KwaMakhutha, KwaZulu-Natal. Woordvoerder Mabinda Seaba sê uiterste geweld het te algemeen geword en hulle eis besliste optrede, aanspreeklikheid en nuwe leierskap. Seaba vra die verwydering van onwettige vuurwapens, die ontwrigting van misdaadnetwerke deur vinnige optrede gegrond op intelligensie, en samewerking met die gemeenskap om inwoners te ondersteun sodat hulle stemme gehoor kan word:
# Statistiek Suid-Afrika sê die verligting in brandstofinflasie het gehelp om die jaarlikse vervoerinflasie in Augustus te beperk. Vervoerinflasie het van 8,9-persent in Julie tot 8,8-persent in Augustus afgeneem, terwyl jaarlikse brandstofprys-inflasie tot 20-persent verlangsaam het. Petrolpryse het tussen Julie en Augustus met twee-persent gedaal en dieselpryse het met 3,1-persent gestyg. Woordvoerder Ricado Johnson sê die prys van stokvis het die afgelope jaar met 12-persent gestyg en visvingers met 11,3-persent:
# Die lugvaartreus Airbus wil die gebruik van sy C295-militêre vervoervliegtuie in Suid-Afrika en elders in Afrika uitbrei. Die vliegtuig kan ingespan word vir soldate- en vragvervoer, mediese ontruimings en humanitêre operasies vanaf ongeteerde aanloopbane. Airbus het ‘n vier-jaar-ooreenkoms onderteken met Wits Universiteit en Frankryk se Hoër Instituut vir Lugvaartkunde en Ruimtevaart om opleiding in lugvaart-ingenieurswese te versterk. Die vennootskap sal studente-uitruilings, gevorderde navorsing en vaardigheidsontwikkeling ondersteun om plaaslike vernuwings en vervaardiging in die lugvaartbedryf te bevorder.
# Krieket: Kwena Maphaka is die vierde Suid-Afrikaanse snelbouler om te onttrek aan die eendagreeks teen Australië wat môre in Durban begin. Hy sluit aan by Kagiso Rabada, Lungi Ngidi en Ottneil Baartman, wat ook beseer is. Duan Jansen, Lizaad Williams en Nqobani Mokoena is by die groep ingesluit. Dit beteken hulle, Jansen se tweelingbroer Marco, Gerald Coetzee en Corbin Bosch het gesamentlik net 72 wedstryde se ervaring. Die tweede eendagwedstryd word Sondag op die Wanderers gespeel en die derde een volgende Woensdag in Potchefstroom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-560-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-305-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….