Nuus 15:00
BULLETIN 5 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gauteng onthul ‘n ambisieuse begroting van 500-miljard-rand vir openbare dienste en ekonomiese groei
# Suid-Afrika se ekonomie groei met 0,1% in die vierde kwartaal van 2023
# En, rugby: Die Haaie is die groot gunstelinge om die terugkeer van die Bok-senter Esterhuizen te bevestig
# Gauteng se LUR vir Finansies, Jacob Mamabolo, het 500-miljard-rand oor die volgende drie jaar bewillig om openbare dienste te verbeter, die township-ekonomie ‘n hupstoot te gee, misdaad te bekamp en die energiekrisis aan te pak. Dit gee voorrang aan sektore soos Onderwys, Gesondheid en Gemeenskapsveiligheid, gemik op beter toegang tot gesondheidsorg, beter gehalte onderwys en die versterking van wetstoepassings-vermoëns. Mmabolo het in sy provinsiale begroting gesê fondse word geoormerk vir infrastruktuurontwikkeling om dienslewering te verbeter en meer werksgeleenthede te skep:
Nog finansiële nuus: Suid-Afrika se ekonomie het in die vierde kwartaal van 2023 met ‘n marginale 0.1-persent gegroei. Mynbou het met 2,4-persent gestyg en elektrisiteit, gas en water het ‘n tweede agtereenvolgende kwartaal van positiewe groei behaal, en met 2,3-persent toegeneem. Aan die negatiewe kant was handel, landbou, die boubedryf en die regering swakker. Statistieke Suid-Afrika sê dit neem die jaarlikse groeikoers vir 2023 na 0,6-persent, teenoor 1,9-persent in 2022. Landbou het sy eerste jaarlikse inkrimping aangeteken sedert 2019, en het met 12,2-persent afgeneem. Dit is die grootste daling op ‘n jaargrondslag in landbouproduksie sedert 1995.
# Die minister van Minerale Bronne en Energie, Gwede Mantashe, sê Suid-Afrika se energie-uitdagings strek veel verder as net beurtkrag. Mantashe het tydens die 16de jaarlikse Afrika Energie-indaba in Kaapstad gesê die regering steun hernubare energie-oplossings om dié uitdagings te oorkom. Hy sê ‘n tegnologie-mengsel is nodig om energie-tekorte uit te roei. Mantashe het ook kommer uitgespreek oor bestaande en toekomstige gasvoorsiening in Suid-Afrika, met verwysing na kommersiële geskille tussen Sasol en sy kliënte oor die afname in gasvloei by dié bron:
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, is gasvrou vir haar Deense eweknie, Lars Løkke Rasmussen, tydens politieke gesprekke in Pretoria. Die departement sê Suid-Afrika en Denemarke geniet goeie diplomatieke betrekkings sedert die ondertekening van ‘n Verklaring van Voorneme in 2009. Die departement sê ook Denemarke is ‘n sterk ondersteuner van Suid-Afrika se demokrasie en vryheid, en beskou die land as ‘n groeiende bestemming vir Deense uitvoere.
# Rugby: Die Haaie en die Stormers het albei aangedui dat hulle in die Springbok-senter André Esterhuizen belangstel. Hy verlaat die Engelse klub Harlequins aan die einde van die seisoen. Daar is egter vele gerugte dat die 29-jarige Wêreldbeker-wenner moontlik terugkeer Durban toe. Esterhuizen het sewe jaar vir die Haaie gespeel, voordat hy in 2020 Londen toe is om vir die Harlequins te speel. Hy sê dit was ‘n voorreg om Quins te verteenwoordig:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 24-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-831-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-125-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….