Nuus 15:00
BULLETIN 18 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Siya Kolisi vra mans om die geslagsgeweld-krisis aan te pak
# ‘n Moskee-bomaanval in Pakistan eis minstens 16 lewens
# En sokker: Beckham sê Messi verdien ‘n negende Ballon d’Or
# Die Springbok-rugbykaptein, Siya Kolisi, vra Suid-Afrikaanse mans om verantwoordelikheid te aanvaar en dringend op te tree teen geslagsgeweld en vrouemoord na die ontdekking van nege vroue se liggame in Ekurhuleni, Gauteng. Hy het gepraat in Australië, waar die Springbokke voorberei vir volgende naweek se toets teen die Wallabies. Kolisi sê Suid-Afrikaners moet saamstaan teen die onding. Hy vra sportmanne en ander om hul bekendheid te gebruik om die krisis te oorkom:
Intussen vra die vervoervakbond UNTU die regering om dringend in te gryp om hierdie krisis te bekamp. ‘n Multidissiplinêre polisiespan is tans besig om die afgelope twee maande se moorde te ondersoek. UNTU se woordvoerder, Atenkosi Plaatjie, sê die las mag nooit op vroue wees om meer waaksaam te wees en heeltyd oor hul skouer te kyk nie:
# Die regsverteenwoordiger van Victor Majola, wat aangekla word van beplanning van die moord op Warrick “DJ Warras” Stock, het hom weens onbetaalde gelde onttrek. Advokaat Piet du Plessis het aan die Hooggeregshof in Johannesburg gesê dat sy firma nie die nodige finansiële steun het om voort te gaan om Majola te verteenwoordig nie. Majola en Hlengiwe Buthelezi staan tereg op aanklag van moord en sameswering ná die sluipmoord op Stock in die Johannesburgse middestad. Die saak is tot 8 Oktober uitgestel. Albei beskuldigdes moet nuwe regsverteenwoordiging reël.
Nuus uit die buiteland:
# Sestien mense, insluitend vyf polisielede, is dood en meer as 50 beseer in ‘n ontploffing in ‘n moskee in Noordwes-Pakistan. Die ontploffing het tydens Vrydag-gebede plaasgevind naby ‘n polisieterrein in Kohat. ‘n Voertuig vol plofstof was vermoedelik by die aanval betrokke, hoewel die oorsaak nog nie amptelik bevestig is nie. Reddingspanne deursoek steeds die beskadigde moskee en nabygeleë geboue, terwyl geen groep nog aanspreeklikheid aanvaar het nie. Die gebied worstel die afgelope paar jaar met herhaalde militante aanvalle.
# Sokker: Die voormalige Engelse kaptein, David Beckham, sê die Argentynse ster-speler Lionel Messi verdien vanjaar se Ballon d’Or in sy finale jaar van internasionale sokker. Die 39-jarige is saam met 29 ander spelers benoem vir die gesogte toekenning, wat hy al agt keer tevore gewen het. Beckham sê Messi het nog ‘n briljante Wêreldbekertoernooi beleef, agt doele aangeteken en bygedra tot nog vier, en is ook Argentinië se rekordhouer met 125 doele in 207 wedstryde. Die Ballon d’Or word volgende maand toegeken.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-26-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-995-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-377-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….