Nuus 15:00
BULLETIN 28 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Sewende verdagte is aangekeer in die AKA-moordsaak
# Die Mandela-familie wys die Gautengse regering se aanbod van die hand om sy huis in Johannesburg op te knap
# En, rugby: ‘n Franse senter sal die res van die Sesnasies misloop ná ‘n rooikaart teen Italië
# Die polisie in KwaZulu-Natal het bevestig nog ‘n verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op die kletsrymer en vervaardiger, Kiernan ‘AKA’ Forbes, en sy vriend, Tebello ‘Tibz’ Motsoane. Dit volg nadat die provinsiale polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, gisteraand aangekondig het ses mense is aangekeer in verband met die moorde in Durban verlede jaar. Die polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, hoop die deurbraak sal verdere insig bied in die vordering van die ondersoek en die regsverrigtinge rondom die hoëprofielsaak:
# Die familie van Nelson Mandela het ‘n voorstel van die Gautengse regering van die hand gewys om die oorlede president se woning in Houghton op te knap. Die woordvoerder van die Johnnesburgse Erfenisstigting, David Fleminger, het samesprekings bevestig met die Mandela-familie oor die opknapping en moontlike toegang vir die publiek na die herstelwerk. Fleminger het onthul die familie gee voorkeur aan privaat skenkings bo openbare fondse vir die opknappings-uitgawes.
# Die Putco-busmaatskappy en die vakbond Numsa kon nie ‘n middeweg vind oor geskorste werknemers nie. Die geskil dateer terug na ‘n onwettige staking in September 2022, waarna sekere werknemers met volle betaling geskors is, hangende die uitslag van ‘n ondersoek deur die Kommissie vir Bemiddeling, Versoening en Arbitrasie. Putco se woordvoerder, Lindokuhle Xulu, sê tydens ‘n opvolgvergadering gister, het NUMSA geëis vir alle geskorste werknemers om heraangestel te word of nie by die Putco-perseel hoef aan te meld terwyl hulle geskors is nie:
# Rugby: Frankryk sal vir die res van die Sesnasies-kampioenskap sonder sy senter, Jonathan Danty, wees ná sy skorsing van vyf-weke weens vuilspel in die afgelope naweek se gelykopstryd teen Italië. Die 31-jarige is in Lille afgestuur vir ‘n gevaarlike duikslag op die Italiaanse senter, Juan Ignacio Brex, en die geelkaart is daarna na rooi opgradeer. Die dissiplinêre komitee sê Danty het erken hy verdien die rooikaart. Hy sal Frankryk se laaste twee wedstryde teen Wallis in Cardiff en tuis teen Engeland misloop.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-26-sent teen die dollar, 20-rand-82-sent teen die euro en 24-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-251-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-27-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-82-sent per vat.
# En, die brandweerdienste van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit het mense gemaan om versigtig te wees soos temperature die hoogte inskiet. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel meer as 40-grade Celsius vir die volgende 48-uur. ‘n Woordvoerder, Anesca Roodt, waarsku teen ‘n verhoogde veldbrandgevaar. Inwoners word aangeraai om waaksaam te bly en uiters versigtig te wees om die vinnige verspreiding van brande in hierdie tydperk te voorkom:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….