Nuus 15:00
BULLETIN 16 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwelkom die Verkiesingshof se uitspraak oor die ANC se laat indiening van kandidatelyste
# Activists and Citizens Forum sê die voormalige Vervolgingsgesag-hoof moet strafregtelik vervolg word oor ‘n beweerde komplot teen Masemola
# En stygende brandstofpryse lei tot wêreldwye betogings
# Die DA sê die Verkiesingshof se weiering van die ANC se appèlaansoek oor die laat indiening van kandidatelyste bevestig verkiesing-spertye moet nagekom word en dieselfde reëls geld vir alle politieke partye. Woordvoerder Ashor Sarupen sê die ANC is onder toenemende druk, binne en buite die party, oor wat hy as ‘n ernstige administratiewe mislukking beskryf. Hy sê die hofsaak het geen meriete gehad nie en was eerder ‘n poging om die party se beeld te beskerm. Sarupen sê die OVK kan nou die finale kandidatelyste bekend maak.
# Activists and Citizens Forum verwelkom die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Andy Mothibi, se besluit om aanklagte teen die geskorste polisiekommissaris, Fannie Masemola, terug te trek. Hy is beskuldig van oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur oor die Medicare 24-tender. Woordvoerder Dennis Bloem sê die voormalige hoof van die Onafhanklike Direktoraat teen Korrupsie, Andrea Johnson, en haar bondgenote het teen Masemola saamgesweer en moet strafregtelik vervolg word:
# Die KwaZulu-Natalse polisie ondersoek ‘n moordsaak nadat ‘n onbekende vrou se liggaam op ‘n vullisterrein in Copeville, Pietermaritzburg, gevind is. Haar hande was agter haar rug vasgebind en die polisie sê sy het vermoedelik brandwonde opgedoen. Vullisherwinnaars het op die liggaam afgekom. Die polisie vra inwoners om te help om die moordenaars op te spoor.
Nuus uit die buiteland:
# Betogings vind in verskeie lande plaas namate skerp stygings in brandstofpryse lewenskoste verder opjaag. Betogings is reeds in Sirië, Guatemala, Portugal, Frankryk en die Filippyne aangemeld terwyl die oorlog tussen Amerika en Iran wêreldwye energievoorrade ontwrig. Oliepryse het tot heelwat meer as 100-dollar per vat gestyg, wat vervoerkoste en huishoudelike uitgawes raak. Betogers in Sirië het strate versper en motorbande aan die brand gesteek terwyl vragmotorbestuurders en ander groepe hoofroetes in Guatemala ontwrig. Regerings verkeer onder toenemende druk om brandstofkoste te help dra of brandstof-belasting te verlaag.
# Rugby: Die Springbok-vrouestut Babalwa Latsha sê hulle is gereed vir die geweldige uitdaging om Wallis Vrydag op hulle tuisveld in Cardiff te pak in die openingswedstryd van die W-15-wêreldreeks. Wallis het Suid-Afrika 29-19 geklop toe die twee lande in 2021 die laaste keer teen mekaar gespeel het. Die wêreld se 12 beste spanne neem deel aan die reeks. Latsha glo hulle het nou ‘n sterk span om Wallis te klop:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-27-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-865-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-347-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 108-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….