Nuus 15:00
BULLETIN 27 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mango se sakereddingspraktisyn waarsku oor likwidasie te midde van die regstryd met minister Gordhan
# Die adjunkpresident vra vir gesamentlike optrede oor die ekonomiese uitwerking van konstruksie-mafias
# En, Motorsport: Alonso is gereed vir die langste Formule Een-seisoen ooit
# Die lugdiens Mango se sakereddingspraktisyn, Sipho Sono, waarsku die lugredery loop gevaar om gelikwideer te word as die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, slaag in sy poging om die verkoop te staak. News24 berig Gordhan versoek ‘n dringende interdik om die verkoop van die lugdiens aan ‘n onbekende belegger te keer, ‘n proses wat reeds langer as 18-maande aan die gang is. Die minister het die saak na die Appèlhof geneem. Mango, ‘n filiaal van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, is sedert Julie 2021 in sakeredding.
# Adjunkpresident Paul Mashatile het ‘n oproep gedoen om gesamentlike optrede om konstruksie-mafias se ernstige uitwerking op die ekonomie die hoof te bied. Hy het op die nasionale konferensie oor die hersiening van die geïntegreerde strafregstelsel benadruk daar is ‘n dringende behoefte om as verenigde front op te tree teen misdadige optrede wat die boubedryf ontwrig. Hy sê dit is ‘n uiters belangrike stap om die bedryf te beskerm en ekonomiese groei te versterk:
# Die Veelparty-handves vir Suid-Afrika sal môre uiteensit hoe hy beplan om ‘n einde te maak aan die kragonderbrekings en energiesekerheid te bereik indien hy die land regeer. Die handves sê Suid-Afrika se kragkrisis is die regstreekse gevolg van drie dekades se swak beleidsbesluite, ‘n gebrek aan beplanning, korrupsie en Eskom se wanbestuur deur die regerende ANC. Sam Mgobozi van ActionSA sê dit is ‘n krisis wat onmiddellik opgelos moet word deur ‘n alternatiewe regering met die vaardigheid, politieke wil en integriteit om die situasie reg te stel.
# Motorsport: Die langste Formule Een-seisoen ooit begin hierdie naweek in Bahrein met die eerste van 24 wedrenne. Drie wêreldkampioene neem deel – Red Bull se Nederlandse renjaer, Max Verstappen, sal begin as ‘n besliste gunsteling vir ‘n vierde agtereenvolgende wêreldtitel. Dit sal Lewis Hamilton van Brittanje se laaste seisoen vir Mercedes wees voordat hy by Ferrari aansluit. Die 42-jarige Spanjaard, Fernando Alonso, hoop op nog ‘n goeie seisoen vir Aston Martin, nadat hy verlede seisoen vierde geëindig het:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-16-sent teen die dollar, 20-rand-80-sent teen die euro en 24-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-564-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-35-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-26-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Vandag is Wêrelddag vir nie-regeringsorganisasies, en die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Lindiwe Zulu, sê ‘n gebrek aan vaardighede, infrastruktuur en institusionele ondersteuning belemmer nie-winsgewende organisasies se doeltreffendheid. Dit is dus noodsaaklik om die vermoë van NRO’s en organisasies sonder winsbejag op te bou om volhoubare en betekenisvolle projekte te verseker. Die aantal geregistreerde organisasies sonder winsbejag in die land was op 15 Februarie, 285-duisend-en-55. Die departement se woordvoerder, Lumka Oliphant, sê beperkte befondsing en hulpbronne het die omvang en die skaal van hierdie organisasies se projekte aan bande gelê:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….