Nuus 15:00
BULLETIN 11 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Bafana Mahungela is skuldig bevind aan die moord op Kirsten Kluyts
# Matlala se SAPD-tenderbedrogsaak is uitgestel vir moontlike samevoeging met sy medebeskuldigdes
# En rugby: Ambassadeur Meyer sê die wedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks is sport-diplomasie op sy beste
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het Bafana Mahungela skuldig bevind aan die moord op ‘n onderwyseres van die Spesiale Skool Deltapark, Kirsten Kluyts, tydens ‘n MyRun-wedloop in Parkmore, Sandton, in Oktober 2023. Hy is ook skuldig bevind aan ontvoering, roof met verswarende omstandighede, poging tot verkragting en regsverydeling. Regter Ian Cox sê die staat het sy saak bo redelike twyfel bewys, en Mahungela se weergawe verwerp. Hy het die saak uitgestel vir voorvonnis-verrigtinge:
# Die tenderbedrogsaak van 228-miljoen-rand teen die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala en sy twee ondernemings is tot 25 September in die Handelsmisdaadhof in Pretoria uitgestel. Die Ondersoekdirektoraat se woordvoerder, Henry Mamothame, sê die uitstel sal verseker Matlala is teenwoordig wanneer die saak weer in die Streekhof in Pretoria voorkom. Matlala se saak is vroeër afsonderlik hanteer nadat hy ‘n pleit- en vonnisooreenkoms wou aangaan, maar hy het dit later laat vaar:
# Die polisie- en gevangenisse-vakbond POPCRU sê die vakbondfederasie COSATU se 15de nasionale kongres wat volgende week plaasvind, moet weer bevestig dat werkersklas-eenheid onaantasbaar is. Die tema is: “Bou ‘n militante, revolusionêre arbeidsbeweging en versterk teen-imperialistiese werkersklas-eenheid om werksgeleenthede te verdedig en sosialisme te bevorder”. POPCRU se woordvoerder, Richard Mamabolo, sê die kongres moet ook aandag gee aan die lewenskostekrisis, omdat salarisse minder werd word terwyl kos en ander noodsaaklikhede se pryse styg:
# Die Tuinroete-munisipaliteit moedig inwoners aan om enige kosprodukte in spazawinkels, supermarkte, koswinkels en ander plekke wat voedsel hanteer wat moontlik onveilig is vir menslike gebruik, aan te meld. Nasionale omgewingsgesondheidstandaarde maak voorsiening vir inspeksies minstens elke drie maande by hoërisiko persele, ses-maandeliks by persele met ‘n gemiddelde risiko en een keer per jaar by laerisiko persele. Die woordvoerder van die munisipaliteit, Herman Pieters, sê dis belangrik om te weet inspeksies is nie tot roetinebesoeke beperk nie:
# Rugby: Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika, Roelf Meyer, sê môre se toets tussen die Springbokke en die All Blacks in Baltimore vertoon sport-diplomasie op sy beste. Suid-Afrika loop 2-1 voor in Rugby’s Greatest Rivalry nadat hy die eerste wedstryd verloor het, wat die Bokke se ingesteldheid verskerp het, en hulle mik nou na ‘n oortuigende oorwinning oor Nieu-Seeland. Meyer sê die Bokke se teenwoordigheid het opwinding veroorsaak in Amerika, wat 2031 se Wêreldbekertoernooi gaan aanbied.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-14-sent teen die dollar, 18-rand-71-sent teen die euro en 21-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-867-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-338-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….