Nuus 15:00
BULLETIN 3 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die petrolprys daal te midde van ‘n brandstofprysaanpassing
# Die VF Plus sê Tshwane verloor miljoene weens die onderbesteding van infrastruktuurfondse
# En rugby: Talle kaartjies is steeds beskikbaar vir die All Blacks se wedstryde teen Suid-Afrikaanse spanne
# Motoriste sal vanaf Woensdag minder betaal vir petrol, maar meer vir diesel wanneer die brandstofprysaanpassings vir Augustus in werking tree. Petrolpryse daal met 52-sent-per-liter, terwyl dieselpryse met tussen een-rand-23 en een-rand-38-sent per liter styg. Lampolie styg met een-rand-52-sent-per-liter, terwyl vloeibare gas goedkoper word. Die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne sê die daling in die petrolprys is as gevolg van swakker internasionale petrolpryse, terwyl dieselpryse gestyg het weens wêreldwye voorraadtekorte en druk op raffinaderye.
# Die saak teen die beweerde politieke tussenganger Brown Mogotsi is in die Johannesburgse Landdroshof tot 20 Augustus uitgestel vir die volledige openbaarmaking van die dossier. Hy staan tereg op aanklagte van onder meer meineed, regsverydeling en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie, nadat hy na bewering ‘n sluipmoordaanval op hom versin het. Ballistiese verslae verbind die vuurwapen wat gebruik is met ernstige misdade soos moord, maar die vuurwapen is nog nie opgespoor nie. Staatsadvokaat Thami Mpekana sê die lys van getuies moet vertroulik bly.
# Die Vryheidsfront Plus in Tshwane sê die metro se jongste vorderingsverslag oor toelaes en befondsing vir die tydperk tot 30 Junie, ontbloot ernstige gebreke in die besteding van ontwikkelingsfondse. Woordvoerder Nick Pascoe sê die metro se versuim om basiese prosesse betyds te voltooi, het veroorsaak dat die Nasionale Tesourie 155,4-miljoen-rand se ontwikkelingsfondse teruggeëis het. Hy sê die fondse was vir basiese dienste soos veilige drinkwater, rioolstelsels en paaie:
# Forum for South Africa verwelkom die regering se verbintenis om die oorskot van Suid-Afrikaners te repatrieer wat tussen 1976 en 1992 tydens apartheid in Angola gesterf het. ‘n Voorlopige sending is verlede jaar na Angola onderneem om die ligging van grafte te karteer, waartydens 89 moontlike grafte vir opgrawing identifiseer het. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê die veldtog is ‘n belangrike stap om langverwagte afsluiting aan gesinne te bied:
# Rugby: Hoë pryse word beskou as ‘n moontlike rede waarom kaartjieverkope vir die All Blacks se toerwedstryde traag is. Pryse begin by 650-rand vir Vrydag se wedstryd teen die Stormers in Kaapstad, en wissel vir die wedstryde teen die Haaie in Durban, die Bulle op Loftus en die Leeus op Ellispark. Kaartjies is ook steeds beskikbaar vir die derde toets teen die Springbokke op die FNB-stadion in Johannesburg, wat wissel van een-duisend-650- tot vier-duisend-rand. SA Rugby het glo erken dat verkope vir die toerwedstryde van middelmagtig tot swak is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-643-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en- 50-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 87-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….