Nuus 15:00
BULLETIN 21 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA beloof om kaderontplooiing te beëindig as hy verkies sou word
# Popcru vra G-4-S se Mangaung-kontrak moet so gou moontlik beëindig word
# en Rugby: Vraagteken oor Haaie wat nie mas opkom nie
# DA-leier John Steenhuisen het die party se toewyding aangekondig om kaderontplooiing te beëindig, sou hy as regering verkies word. Dit volg op die Hooggeregshof in Pretoria se verwerping van die party se saak, met koste, teen die ANC se kaderontplooiings-beleid. Steenhuisen sê die beleid het staatskaping en sistemiese korrupsie vergemaklik, en beskou dit as onregmatig en ongrondwetlik. Hy sê wat ‘n einde sal maak aan kaderontplooiing, is om die ANC uit te stem:
# Die Staal- en Ingenieursbedryf-federasie van Suider-Afrika het die Stand van die Metaal- en Ingenieursektor-verslag 2024 uitgereik. Die verslag onthul ‘n effense styging van 1,7-persent in 2023, van 1,5-persent in 2022. Die verslag noem egter ‘n 18-persent gaping teenoor die vlakke voor 2008. Die federasie se hoof-bedryfsamptenaar, Tafadzwa Chibanguza, maan oor voortgesette risiko’s, wat insluit beurtkrag, logistieke uitdagings en wêreld-konflikte, wat herstel in die sektor kortwiek.
# Die polisie- en gevangenisdiensvakbond, Popcru vra die Departement van Korrektiewe Dienste om die beëindiging van die kontrak met G-4-S Sekerheidsdienste by die Mangaung Korrektiewe Sentrum in Bloemfontein, in die Vrystaat, te verhaas. Die tronk was in Mei 2022 in die nuus ná die ontsnapping van die veroordeelde Facebook-verkragter en -moordenaar, Thabo Bester. Popcru se woordvoerder, Richard Mamabolo, sê die departement was verplig om die kontrak met drie maande te verleng:
# Rugby: Die Haaie beleef ‘n nagmerrie in die Verenigde Rugby Kampioenskap, met net een oorwinning en nege nederlae. Afrigter John Plumtree sê hy weet die uitslae stem nie ooreen met die verwagtinge vir so ‘n sterk groep vol Springboksterre nie. Die oud-All-Black-hulpafrigter gee toe die seisoen is frustrerend, maar hou vol dinge sal volgende seisoen verbeter:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-220-dollar-66-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-27-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-72-sent per vat.
# En ten slotte, Comic-Con Cape Town, die baie gewilde viering van die popkultuur, keer vanjaar van 27 April tot 1 Mei terug na die Moederstad. Bekendes soos die internasionale strokiesprent-ikoon, Dan Didio, en Anand Ramcheron van Durban wat kunswerke bygedra het vir die Marvel: Crisis Protocol-bordspeletjie, sal teenwoordig wees. Die organiseerders sê Comic Con Cape Town bied iets vir elkeen, van geharde ondersteuners tot gewone entoesiaste. Die goedkoopste kaartjies kos 190-rand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….