Nuus 15:00
BULLETIN 16 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die moordsyfer styg met 2,1-persent
# ‘n Ongekende mobiliseringspoging word verwag vir die DA se grootste manifes-bekendstelling in Pretoria
# En krieket: Nieu-Seeland wen sy eerste toetsreeks ooit teen die Proteas
# Die minister van Polisie, Bheki Cele, het in sy jongste kwartaallikse misdaadstatistiek aangekondig die moordsyfer het van Oktober tot Desember verlede jaar met 2,1-persent gestyg. Dit is 155 meer as die vorige kwartaal en bring die aantal moorde in dié drie maande op sewe-duisend-710 te staan. Seksuele oortredings het met 1,7-persent gedaal, maar kommer bestaan steeds, veral omdat 431 moorde met gepeupelreg verband hou. Cele het suksesse in stryd teen transito-rooftogte en die verlaging in eiendoms-verwante misdade beklemtoon:
# Die DA sê hy is gereed vir ‘n geskiedkundige oomblik wanneer sy manifes môre in Pretoria bekend gestel word. Duisende ondersteuners sal na verwagting van Kerkplein na die Uniegebou opruk wat ongekende geesdrif buite tradisionele vestings toon. Die geleentheid bied ʼn verenigde, dinamiese en uiteenlopende party aan met vermaak en ʼn toespraak deur die federale leier, John Steenhuisen. Die federale voorsitter, Ivan Meyer, het aan die media gesê president Cyril Ramaphosa moet dadelik die verkiesingsdatum aankondig en voeg by kommer bestaan oor regverdigheid in die politieke landskap:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê ongeveer 12-persent van padgebruikers in Gauteng betaal steeds vir e-tol ondanks die aankondiging van die naderende skrapping. Outa se uitvoerende hoof, Wayne Duvenhage, beweer die beëindiging van die e-tolstelsel vereis van die minister van Vervoer om die Gautengse snelweg-verbeterings-projek nietig te verklaar, wat tolgeld op die paaie uitskakel. Duvenhage kritiseer die regering se onvermoë om sy besluite uit te voer en beweer e-tol volhard op lewensondersteuning, wat maandeliks ongeveer 40-miljoen-rand kos.
# Krieket: ‘n Honderdtal deur Kane Williamson het Nieu-Seeland geneem tot ‘n rekord-lopie-jaagtog op Seddonpark in Hamilton en ‘n eerste toetsreeksoorwinning ooit teen Suid-Afrika. Die Swart Pette het ‘n teiken van 267 bereik om met sewe paaltjies te wen en die reeks twee-nul te beklink. Nie een van die Proteas se voorste spelers was beskikbaar vir die reeks nie, dus het agt spelers hul toetsbuiging gemaak. Die afrigter, Shukri Conrad, sê die uitslag is teleurstellend, maar die spelers se veggees was aangenaam:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-321-dollar-91-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-7-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-99-sent per vat.
# En ten slotte. die bekende Hollywood-ster, Christian Bale, het begin om 12 pleegsorghuise in Palmdale, Kalifornië, te bou as deel van sy organisasie sonder winsbejag, Together California. Die projek wat reeds 16 jaar aan die gang is, wil die pleegsorgstelsel verbeter. Hierdie huise sal verseker dat sibbe bymekaar bly. Die dorpshuise met opgeleide pleegouers het elk drie slaapkamers. Die dorpie sluit ook ateljeewoonstelle en ʼn groot gemeenskapsentrum in. Sy dogter se geboorte in 2005 het die projek geïnspireer en Bale hoop dit sal die model word waarvolgens probleme in Kalifornië se pleegsorgstelsel hanteer word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….