Nuus 15:00
BULLETIN 4 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Malusi Gigaba bly die medevoorsitter van die Verdedigingskomitee
# JD Vance sê die middeltermynverkiesing is tussen twee keuses: kranksinnigheid of gesonde verstand
# En tennis: Nick Kyrgios mag speel nadat hy sy skorsing van ‘n maand uitgedien het
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het beslis die ANC se poging om Malusi Gigaba as medevoorsitter van die parlementêre gesamentlike staande komitee oor Verdediging te vervang, is nie volgens prosedure gedoen nie. Sy sê haar kantoor het geen amptelike kennisgewing ontvang nie, en ook nie sy bedanking nie voor ‘n ander ANC-parlementslid in sy plek aangewys is nie. Die EFF en die DA het die proses tydens ‘n chaotiese komiteevergadering betwis. Gigaba bly dus medevoorsitter tot die regte prosedure gevolg word.
# Die Herwinningsvereniging van Suid-Afrika vra dat die prysvoorkeurstelsel vir die uitvoer van skrootmetaal opgeskort word. Die vereniging sê die beleid dwing herwinnings-ondernemings om skroot teen ‘n afslag van 30-persent aan plaaslike staalmeulens te verkoop, terwyl staalinvoere toeneem. Die organisasie sê die invoer van staalprodukte het in Julie met 36-persent gestyg vergeleke met ‘n jaar tevore, met Zimbabwe wat baie halfverwerkte staal, draadstaaf en bewapeningstaal voorsien. Die vereniging vra ‘n onafhanklike hersiening en ondersoek na die uitwerking van die beleid.
# Die Departement van Water en Sanitasie versoek Suid-Afrikaners om te heroorweeg hoe water gebruik word, daagliks en tydens vierings. Dit volg op wydverspreide voorvalle van watervermorsing tydens Lentedag-vieringe, toe mense mekaar met water natgegooi het. Woordvoerder Wisane Mavasa sê hierdie saak is dringend namate Suid-Afrika die gevolge van El Niño verwag, wat hoër temperature, veranderende reënvalpatrone en droër toestande kan meebring:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse vise-president, JD Vance, sê November se middeltermynverkiesing bied ‘n keuse tussen kranksinnigheid en gesonde verstand. Setels in die Kongres, staats- en plaaslike vlak is op die spel. Meningspeilings toon deelstate soos Texas, Ohio en Alaska, wat die Republikeine in 2024 gemaklik gewen het, is tans belangrike politieke slagvelde. Vance sê die Demokrate wil grense oopstel, belasting verhoog en misdadigers vrylik laat rondloop, maar die Republikeine wil Amerika verbeter:
# Tennis: Die Australiër Nick Kyrgios het ‘n verminderde skorsing van ‘n maand aanvaar en uitgedien nadat hy positief getoets het vir kokaïen. Die 31-jarige speler is vroeg verlede maand voorlopig geskors nadat ʼn monster wat hy in Junie tydens die Majorka Ope in Spanje gegee het, positief getoets het vir ʼn kokaïen-metaboliet. Kyrgios het erken dat hy kokaïen gebruik het in ʼn nagklub. Hy het aangesluit by ʼn behandelingsprogram wat deur die Internasionale Tennis-integriteitsagentskap goedgekeur is om die verstek-skorsing van drie maande te verminder. Sy skorsing het gister verstryk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-97-sent teen die dollar, 18-rand-56-sent teen die euro en 21-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-356-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-466-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….