Nuus 15:00
BULLETIN 15 Februarie3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Twee soldate van die Suid-Afrikaanse Weermag sterf in ‘n DRK-mortieraanval
# ‘n ANC-afvaardiging sluit hom aan by die Forum for the Freedom of Nations in Moskou
# En, Krieket: David Bedingham teken sy eerste toetshonderdtal aan
# Twee soldate van die Suid-Afrikaanse Weermag het gister omgekom in Goma, in die Demokratiese Republiek van die Kongo. Nóg drie is beseer toe ‘n mortierbom hulle militêre basis getref het. Dié ongevalle is die eerste vir Suid-Afrika, sedert twee-duisend-900 soldate in Desember daar ontplooi is. Die troepe, wat deel uitmaak van ‘n streeksmag, is gestuur om teen M-23-rebelle te help veg.
# ‘n Afvaardiging van senior lede van die ANC, onder leiding van die sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sal aan die Forum for the Freedom of Nations in Moskou, Rusland, deelneem. Die forum het ten doel om die herlewing van kolonialisme te bekamp. Hierdie besoek volg ná verskeie Europese reise terwyl Suid-Afrika poog om sy standpunt rondom die Russies-Oekraïnse konflik te verduidelik. Intussen beklemtoon die Russiese Ministerie van Buitelandse Sake die forum se rol in die aanvang van globale besprekings oor tersaaklike kwessies. Die forum sal einde Maart amptelik van stapel gestuur word.
# ActionSA sê die elf partye in die Veelparty-handves vir Suid-Afrika het verskeie buitelandse ministers en ander verteenwoordigers van gepaste organisasies gevra vir bystand om te verseker dat die uitslae van die komende nasionale en provinsiale verkiesing die wil van die mense van Suid-Afrika akkuraat weerspieël. Sam Mgobozi van ActionSA sê hierdie ministers en organisasies is gegrond in die ooste en die weste, die globale noorde en globale suide, sowel as in Afrika:
# Krieket: David Bedingham het sy eerste toetshonderdtal aangeteken tydens die Proteas se stryd om ‘n oorwinning teen Nieu-Seeland. Suid-Afrika is in hul tweede beurt vir 235 uitgeboul en het aan die Swartpette ‘n wenteiken van 267 gestel, wat ‘n rekordjaagtog op Seddon Park in Hamilton is. Die tuisspan het met uitskeityd op dag drie 40 vir een gehad, en benodig nog 227 lopies om te wen. Bedingham hoop sy honderdtal kan die Proteas tot ’n oorwinning help lei:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-412-dollar-66-sent. Die prys van goud is een-duisend-996-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-73-sent per vat.
# En, laastens: Die adjunkvoorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies het om verskoning gevra omdat sy gesê het beurtkrag is nie die einde van die wêreld nie. Die ANC-parlementslid, Sylvia Lucas, is hewig gekritiseer oor haar kommentaar tydens die debat oor die staatsrede. Sy het tydens ‘n radio-onderhoud gesê sy verstaan wel die uitwerking van beurtkrag. Lucas sê sy wou vir LP’s verduidelik elektrisiteit het ná 1994 meer toeganklik vir Suid-Afrikaners geword, aangesien dit voorheen ‘n luukse was om krag te hê.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….