Nuus 15:00
BULLETIN 13 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gwede Mantashe fokus op die ANC se post-apartheid pogings sedert 1994
# DA-leier waarsku, Tintswalo se Suid-Afrikaanse droom verkeer in gevaar
# En, Outisme Suid-Afrika bied weer sy jaarlikse kunsveiling aan om geld in te samel
# Die minister van Minerale en Energie, Gwede Mantashe, het tydens die staatsrede-debat op kritici gefokus van die regering se pogings om apartheid se nalatenskap in die mynbousektor aan te spreek. Hy het teenstanders herinner aan die diepgewortelde uitdagings wat van apartheid oorgeërf is, en 342 jaar van kolonisasie, Hendrik Verwoerd se visie vir ‘n blywende apartheid-stelsel, én 46 jaar van apartheidsregering uitgelig. Mantashe sê die regering was sedert die aanbreek van demokrasie in 1994, verbind tot transformasie, met die fokus op eienaarskap, bestuur en verkryging:
Die DA het tydens die staatsrede-debat die ANC se bestuur gekritiseer, met verwysing na die verbroke beloftes wat burgers soos Tintswalo nadelig geraak het. Die party het eenheid aangemoedig en verklaar Tintswalo, Fatima, Johan en Sipho sal in die komende verkiesing vir die DA stem om die Suid-Afrikaanse droom te red. Die party se leier, John Steenhuisen, het gewaarsku téén die potensiële terugkeer van die ANC, en vanjaar se verkiesing bestempel as ‘n keuse tussen die beveiliging van drome óf die risiko van verdere teleurstelling:
# ‘n Vier-en-dertig-jarige voormalige onderwyser aan die St Mary’s Diocesan School for Girls in Pretoria is borgtog van tien-duisend-rand in die Pretoriase Landdroshof toegestaan toe hy op aanklagte van verkragting, seksuele aanranding en seksuele voorbereiding verskyn het. Die Nasionale Vervolgingsgesag se Gautengse woordvoerder, Lumka Mahanjana, sê daar word beweer die onderwyser het tussen 2017 en ’18, ‘n graad 5-leerder tydens swemlesse en ekstra klasse misbruik. Mahanjana sê die saak is tot die 27ste van volgende maand uitgestel vir verdere ondersoek:
# Olimpiese Spele: Kenners in Parys waarsku oor die gevaar van eeue-oue balkonne wat tydens vanjaar se Spele in die Franse hoofstad oorlaai kan word – veral tydens die openingseremonie wat plaasvind op bote op die beroemde Seine-rivier. Die Nasionale Eiendomsfederasie het owerhede gewaarsku die balkonne, wat vir slegs ‘n paar mense ontwerp is, sal nie die gewig kan dra as daar te veel mense op is nie. eNCA berig vooraf waarskuwings oor sekerheid en vervoerbeperkings het veroorsaak baie Parysenaars beplan om verlof te neem tydens die Spele en hul huise aan buitelandse besoekers te verhuur.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 49-duisend-845-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-28-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-68-sent per vat.
# En, ten slotte: Outisme Suid-Afrika bied weer sy jaarlikse kunsveiling, wat ‘n platform bied vir neuro-uiteenlopende kunstenaars, wat resorteer buite die dominante maatskaplike standaarde van sogenaamde “normale” neurokognitiewe funksionering, om hul werke ten toon te stel en ‘n inkomste te verdien. Die veiling word volgende week by die Nokuthula Spesiale Skool in Johannesburg gehou. Die veiling sal outistiese kunstenaars ondersteun en bewustheid kweek vir die Outisme-spektrum, wat een uit elke 68 kinders raak. Die kunswerke sluit stukke in deur Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Lynda Ballen en Alice van Jaarsveld, asook die bekende Britse outistiese kunstenaar, Stephen Wiltshire.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….