Nuus 15:00
BULLETIN 31 August 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Brandstofpryse styg Woensdag weer skerp
# Selfoonoperateurs staan die geen vervaldatum van data teen
# En rugby: Rassie verander sy voorry vir die derde toets teen die All Blacks
# Suid-Afrikaanse motoriste staal hulle vir nog ‘n skerp styging in brandstofpryse Woensdag. Petrolpryse gaan met ongeveer een-rand-34-sent per-liter styg, terwyl dieselpryse tot tussen twee-rand-93 en drie-rand-14 sent per-liter kan styg. Die stygings word aangedryf deur hoër internasionale oliepryse en ‘n swakker rand. Die jongste verhogings plaas verdere druk op huishoudelike begrotings en vervoerkoste.
# Eskom het ‘n tweede agtereenvolgende winsgewende jaar aangeteken, met wins wat ná belasting meer as verdubbel het vanaf 14-miljard-rand verlede jaar tot 30,3-miljard-rand vanjaar. Uitvoerende hoof Dan Marokane sê verbeterde kragstasie-beskikbaarheid, strenger kostebeheer en verminderde dieselverbruik het die ommekeer ondersteun. Eskom se kostebestuursprogram het besparings en inkomste van 22,4-miljard-rand opgelewer. Marokane beklemtoon winste sal verhoogde belegging in opwekking en infrastruktuur ondersteun. Hy lig munisipale skuld en elektrisiteitsdiefstal as kommerwekkende faktore uit:
# Cell-C sê die afskaffing van vervaldatums vir mobiele data kan sy inkomstegroei raak omdat verbruikers minder data sal aankoop. Ongebruikte data verval vanaf Januarie volgende jaar nie meer nie, wat beskryf word as ‘n groot oorwinning vir verbruikers. Die nuwe reël beteken kliënte kan ongebruikte data onbeperk oordra, wat die einde maak aan die huidige “gebruik dit of verloor dit”-stelsel. Vodacom en MTN het intussen die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid hof toe geneem om die saak te betwis. Die ondernemings voer aan dit kan hul beleggings en langtermyn-volhoubaarheid nadelig beïnvloed
# Die DA in Gauteng beskuldig premier Panyaza Lesufi dat hy nie optree teen korrupsie-beskuldigde amptenare nie en hul herontplooiing toegelaat het. Woordvoerder Solly Msimanga eis hulle moet op die nasionale swartlys geplaas word. Hy sê die voormalige Gautengse departementshoof van Gesondheid, Arnold Malotana, wat met die Tembisa-hospitaalskandaal en ondersoeke deur die Spesiale Ondersoekeenheid verbind word, is intussen as departementshoof vir Openbare Veiligheid in Johannesburg aangestel:
# Rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus het klein veranderings aan sy beginspan gemaak vir Saterdag se derde toets teen die All Blacks op die FNB-stadion in Johannesburg. Die voorry Ox Nché, Malcolm Marx en Wilco Louw keer terug na die beginspan terwyl Gerhard Steenekamp, Deon Fourie en Thomas du Toit na die bank verskuif. Cheslin Kolbe skuif na heelagter in die plek van die beseerde Damian Willemse, met Kurt-Lee Arendse wat op vleuel uitdraf. Erasmus verwag Nieu-Seeland sal hard terugveg nadat Suid-Afrika die toetsreeks Saterdag in Kaapstad gelykop gemaak het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-11-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-385-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-455-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….