Nuus 15:00
BULLETIN 9 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die werkloosheidskrisis kan nie opgelos word te midde van die kragkrisis nie
# Die SAKP vra die regering om in koolstof-opvangtegnologie te belê
# En Krieket: Ses nuwelinge in die Protea-vrouegroep ingesluit vir die geskiedkundige Waca-toets
# Die ANC-veteraan, Omry Makgoale, glo om aandag te skenk aan die werkloosheidskrisis verg dringende optrede en dit kan nie doeltreffend aangepak word te midde van die voortdurende beurtkrag nie. Mokgoale het aan Newzroom Afrika gesê die land het oorvloedige hulpbronne en bekwame vaardighede, maar onbevoegde mense word geplaas in sleutelposisies in staatsondernemings. Hy meen dit het bygedra tot die agteruitgang van hierdie instellings en die staat se infrastruktuur:
Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party sê intussen dis noodsaaklik om die energiekrisis dringend te hanteer en ‘n billike energieoordrag te verseker wat bestaande werksgeleenthede beskerm. President Cyril Ramaphosa het gisteraand tydens sy staatsrede gesê die regering hervorm die energiestelsel om in die toekoms meer mededingend, volhoubaar en betroubaar te wees. Die SAKP sê om koolstofvrystelling te verminder, moet die regering belê in koolstofopvangtegnologie en bergingsfasiliteite vir die steenkoolkrag-sektor.
# Die Stad Johannesburg sê hy bly daartoe verbind om sy finansiële posisie en prestasie te versterk. Die stad het ‘n ongekwalifiseerde oudit vir die 2022/2023-boekjaar behaal, en twee van sy instellings, die Johannesburg Mark en Johannesburg Stadsteater, het skoon oudits gekry. Die stad se woordvoerder, Virgil James, sê hulle streef steeds na skoon administrasie en die hoogste standaarde van korporatiewe bestuur:
# Krieket: Ses nuwelinge is in die Protea-vrouegroep van 14 spelers ingesluit vir hul geskiedkundige eerste toets teen Australië. Hulle is Tazmin Brits, Masabata Klaas, Ayanda Hlubi, Eliz-Mari Marx, Delmi Tucker en Mieke de Ridder. Verskeie ervare spelers, onder wie Marizanne Kapp, Nadine de Klerk en Suné Luus, is ingesluit in die span onder aanvoering van Laura Wolvaardt. Dit sal Suid-Afrika se eerste toets wees sedert hul onbesliste kragmeting met Engeland in 2022. Die wedstryd van vier dae begin Donderdag op die Waca in Perth.
# Finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 46-duisend-949-dollar-77-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-32-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-57-sent per vat
# En laastens: Henley and Partners se BRICS-welvaartverslag voorspel ‘n toename van 85-persent in miljoenêrs wat binne die volgende dekade na Kaapstad sal stroom. Ongeveer 13-duisend-500 miljoenêrs woon reeds vanaf 2023 in die stad en eienskappe soos natuurlike skoonheid, openbare geriewe, ekonomiese vooruitgang en oplossings vir beurtkrag dra tot hierdie groei by. Die verslag verwag ook ‘n toename van 60-persent in welvaart per capita teen 2033, wat ‘n aanduiding is van belowende ekonomiese uitbreiding in Suid-Afrika. Kaapstad is ook bekend vir aansienlike semigrasie, aangesien individue met ‘n hoë netto waarde van Johannesburg en Pretoria daarheen verhuis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….