Nuus 15:00
BULLETIN 18 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra dringende parlementêre optrede teen Ramaphosa se hofaansoek te midde van die sperdatum
# Meer as 34-duisend werklose gekwalifiseerde Suid-Afrikaners is gewerf vir die registrasienaweek
# En krieket: Temba Bavuma is aangewys op die tydskrif Time se lys van die 100 invloedrykste mense in sport
# Die DA sê die Parlement se ampsklagkomitee het nie die regsgesag om president Cyril Ramaphosa se hofaansoek om die skrapping van die ampsklagproses te betwis nie. Die Parlement se Grondwetlike en Regsdienstekantoor beveel aan die aansoek moet teengestaan word. Die DA-parlementslid Glynnis Breytenbach sê die speaker van die Nasionale Vergadering moet hofstukke teen die interdik-aansoek indien voor môre se sperdatum. Sy beklemtoon enige vertragings kan die Parlement se grondwetlike verantwoordelikhede ondermyn:
# Die Verkiesingskommissie het 48-duisend-212 personeellede aangestel en opgelei om die komende naweek se spesiale kieserregistrasieproses te ondersteun. Uitvoerende hoof, Sy Mamabolo, het bevestig ongeveer 34-duisend van hulle is werkloos, maar gekwalifiseerd. Hy beklemtoon die rol wat verkiesingsbedrywighede speel om tydelike werk en waardevolle vaardigheidsontwikkelingsgeleenthede te skep. Mamabolo sê 37-duisend aangesteldes is vroue:
# Die vakbond GIWUSA het kommer uitgespreek oor die jongste inflasiesyfers. Die koers het verlede maand tot 4,5-persent geklim teenoor vier-persent in April. Dis die hoogste jaarlikse koers sedert Julie 2024, toe inflasie 4,6-persent was. Die vakbond se president, Mametlwe Sebei, sê dit ontbloot die wrede logika van die Suid-Afrikaanse Reserwebank se monetêre beleid:
Nuus uit die buiteland:
# Vyftien lande in Afrika, Asië, die Karibiese Eilande, Europa en die Stille Oseaan onderskryf ‘n nuwe politieke verklaring gemik op die verskerping van toesig oor wêreldwye visvangste. Dit beoog om groter deursigtigheid af te dwing oor wie visvang, waar hulle bedrywig is en onder watter gesag. Die ooreenkoms, bekend as die Mombasa-verklaring, is tydens die 11de Ons Oseaan-konferensie in die Keniaanse stad bekend gestel. Dit weerspieël ‘n groeiende strewe onder regerings en bewaringsgroepe om deursigtigheid in visserye as ‘n basiese vereiste vir die bestuur van mariene-hulpbronne te beskou.
# Krieket: Die Proteas se toets- en eendagkaptein, Temba Bavuma, is aangewys op die tydskrif Time se lys van die 100 invloedrykste mense in sport. Hy verskyn saam met wêreldbekende sportreuse soos die sokkerspelers Lionel Messi en Cristiano Ronaldo en die basketbal-ster LeBron James. Bavuma en die Indiese vroue-ster Smriti Mandhana is die enigste krieketspelers op die gesogte lys. Time beklemtoon Bavuma se inspirerende leierskap in Suid-Afrika se geskiedkundige oorwinning oor Australië in die Wêreldtoetskampioenskaps-eindstryd op Lord’s, wat die land se trofee-droogte van 27 jaar in groot toernooie beëindig het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-855-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-247-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 78-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….