Nuus 15:00
BULLETIN 28 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Dieselpryse kan volgende week met byna drie-rand per liter styg
# Minister Cachalia sê moord en geweldsmisdaad het afgeneem tussen April en Junie
# En rugby: Pollard gaan die tweede toets teen die All Blacks misloop en Kolbe is terug
# Brandstofprysskokke wag volgende week op Suid-Afrikaanse motoriste. Data van die Sentrale Energiefonds toon 95-oktaan petrol se prys kan met meer as een-rand per liter styg, en dié van 93-oktaan met 93-sent. Dieselpryse sal na verwagting met byna drie-rand per liter styg en lampolie met twee rand-16-sent per liter. Gauteng se dieselprys kan weer tot bo 30-rand per liter styg. Die stygings hou hoofsaaklik verband met hoër internasionale oliepryse en wêreldwye dieseltekorte.
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê verskeie ernstige misdade het tussen April en Junie afgeneem. Dit sluit in moord, kapings, huis- en sakerooftogte, asook transitorooftogte. Cachalia het op ‘n nuuskonferensie egter gewaarsku misdade teen vroue, kinders en ander kwesbare groepe is steeds kommerwekkend. Hy sê alkohol bly een van die grootste dryfvere van geweldsmisdaad, veral in moorde en ernstige aanrandings:
# Die taxi-baas Joe “Ferrari” Sibanyoni het onthul dat taxigeweld afgeneem het onder sy leierskap van 2020 tot nou. Hy het voor die Madlanga-kommissie getuig daar is nou minder voorvalle van geweld binne die bedryf. Sibanyoni het die verbetering deels toegeskryf aan verhoogde polisie-vermoë en pogings om vrede te bevorder op ampsdraers-vergaderings. Hy sê die boodskap wat regdeur die bedryf oorgedra word, is een van geen meer vuurwapengeweld nie:
# Die adjunkminister van Water en Sanitasie, David Mahlobo, sê Suid-Afrika sal nie teen 2030 sonder water wees nie, ondanks plaaslike tekorte. Hy het tydens ‘n ministeriële gesprek oor watersekerheid gesê die land het ongeveer 95-persent watervoorsieningsversekering, maar benodig groot beleggings in infrastruktuur. Mahlobo sê die Polihali-dam sal na verwagting vanaf 2028 bykomende water aan Suid-Afrika lewer vir ‘n belangrike bydrae tot Gauteng se watersekerheid:
# Rugby: Die Springbokke het bevestig die ervare losskakel Handré Pollard gaan môre se tweede toets teen die All Blacks in Kaapstad misloop weens ‘n kuitbesering. Sacha Feinberg-Mngomezulu vervang hom in die nommer tien-trui en Manie Libbok bied dekking op die bank. Afrigter Rassie Erasmus het ook aangekondig die drieë-vraat Cheslin Kolbe is in die opdrafspan ingesluit nadat hy aanvanklik uitgelaat is weens ‘n voetbesering. Hy vervang vir Kurt-Lee Arendse, en sal waarskynlik met die stelskopwerk toevertrou word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-99-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-719-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-599-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….