Nuus 15:00
BULLETIN 8 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sal nie die Staatsrede bywoon nie, nadat ses van sy lede geskors is
# Die DA gaan klagtes indien teen die bestuurders van die Padongelukkefonds
# En, Krieket: ‘n Plek in die SA20-eindstryd is op die spel in vanaand se tweede kwalifiseerder
# Die EFF sê hy sal nie vanaand se staatsrede in Kaapstad bywoon nie, ná vanoggend se hofuitspraak. Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het die partyleier Julius Malema, die adjunkpresident, Floyd Shivambu, en nog vier Parlementslede se aansoek teen hul skorsing van die Parlementsopening van die hand gewys. Dit het gevolg nadat hulle verlede jaar se staatsrede ontwrig het. Die EFF sê gedeeltelike deelname aan die bedrywighede sal die indruk skep sommige van sy lede stem saam met die Parlement se onwettige, ondemokratiese en ongrondwetlike besluit om verkose lede te verban.
Intussen het ‘n plaaslike regeringskenner, Miyelani Holeni, ‘n beroep gedoen op president Cyril Ramaphosa, om die kwessie van swak bestuur in munisipaliteite voorop te stel tydens sy staatsrede by die stadsaal in Kaapstad. Holeni het met Newzroom Afrika gepraat en die voortdurende uitdagings uitgelig, insluitend dienslewering, leierskap en bestuur. Holeni het die behoefte beklemtoon vir Ramaphosa om beurtkrag en infrastruktuur-uitdagings aan te pak, terwyl hy ook daarop fokus om die ekonomie op munisipale vlak te laat herleef:
# Die DA sê hy sal klagtes indien teen bestuurders van die Padongelukkefonds. Die klagte gaan oor misleiding van die Parlement deur herhaaldelik aan te dring op ‘n rekeningkundige standaard wat die fonds se huidige skuldprofiel met tot 90-persent sal vervals. Die DA-lid, Alf Lees, sê daar is ‘n sterk grondslag om die fonds se raad, insluitend uitvoerende hoof Collins Letsoalo, van pligsversuim aan te kla en as misdadige direkteure te verklaar kragtens die Maatskappyewet:
# Krieket: Die Durban Super Giants en die Joburg Super Kings sal sake vanaand uitspook op die Wanderers in Johannesburg om ‘n plek in die eindstryd van die SA20. JSK het die tweede kwalifiseerder gehaal toe hulle die Paarl Royals met nege paaltjies verslaan het in gister se elimineerder. Vanaand se wenner sal Saterdag teen Sunrisers Eastern Cape te staan kom nadat die verdedigende kampioen die Super Giants in die eerste kwalifiseerder geklop het. Die eindstryd word op Nuweland in Kaapstad gespeel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 44-duisend-700-dollar-63-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-28-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-88-sent per vat.
# En, laastens: Die Britse amateur-fotograaf, Nima Sarikhani, is vanjaar aangewys as die People’s Choice-toekennings se Natuurlewe-fotograaf van die Jaar. Sy wenfoto met die titel, Ice Bed, is van ‘n slapende ysbeer wat opgekrul op ʼn ysberg lê. Dit is by Noorweë se Svalbard-eilandgroep geneem. Die foto is uit ʼn kortlys van 25 foto’s gekies wat uit ongeveer 50-duisend inskrywings saamgestel is. Sarikhani sê hy hoop die foto inspireer hoop dat daar nog tyd is om die klimaatsprobleem wat mense veroorsaak het, op te los.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….