Nuus 15:00
BULLETIN 9 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hofsaak teen twee ampsdraers van Ekurhuleni word uitgestel tot Julie vir die openbaarmaking van bewyse
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê strenger grensbestuur is noodsaaklik vir migrantebeheer
# En krieket: Johan Botha van Suid-Afrika bedank as afrigter van Queensland Bulls en Brisbane Heat
# Die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni Metro-polisie, Julius Mkhwanazi, en die stadsbestuurder, Kagiso Lerutla, se hofsaak is in die Streekhof in Boksburg, Gauteng, tot 2 Julie uitgestel. Dit is om verdere regsprosesse en die openbaarmaking van bewyse moontlik te maak. Albei bly op borgtog. Hulle staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie en regsverydeling in verband met ‘n beweerde nabootsings-bedrogspul in 2019.
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê Suid-Afrika se migrasieprobleme hou verband met groter maatskaplik-ekonomiese toestande op die vasteland. Dit sluit in werkloosheid, armoede, konflik en beperkte ekonomiese geleenthede. Dit volg op toenemende kommer oor betogings teen immigrante en die uitwerking wat dit op verhoudings op die vasteland het. Die vakbond se woordvoerder, Claude Naicker, sê besprekings oor migrasie moenie buitelanders stigmatiseer of die beskerming van mense se grondwetlike en menseregte aantas nie:
# Die GOOD-party sê die Kaapstadse burgemeester, Geordin Hill-Lewis, se seremoniële oorhandiging van huise is ‘n wanvoorstelling. GOOD se woordvoerder, Roscoe Palm, sê die Fruit and Veg-perseel in Roelandstraat is in 2017 aangekondig en toe weer tydens ʼn openbare geleentheid in 2022. Hy sê Hill-Lewis het verlede jaar weer aangekondig dat dit vir maatskaplike behuising beskikbaar gestel is. Palm sê ondanks die aankondigings is niks nog gebou nie:
# Krieket: Die voormalige Suid-Afrikaanse witbalkaptein Johan Botha het bedank as afrigter van Queensland Bulls en Brisbane Heat in Australië, ‘n jaar voor die verstryking van sy kontrak. Hy het albei spanne die afgelope twee jaar afgerig. Onder sy leiding het Heat vir twee agtereenvolgende seisoene nie die Big Bash-liga se eindrondes gehaal nie, terwyl Queensland in sy eerste jaar die eindstryd van die Sheffield-skild bereik het. Die uitvoerende hoof van Queensland Krieket, Terry Svenson, sê Botha het ‘n stewige bydrae gelewer tot die ontwikkeling van die volgende geslag spelers.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-494-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-339-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: Die vervaardiger van ChatGPT, Open-A-I, het vertroulik aansoek gedoen vir ‘n aanvanklike openbare aanbod in Amerika, en sluit dus by sy mededinger Anthropic aan in ‘n skuif na die aandelemark, terwyl beleggers toenemend belangstelling in die kunsmatige intelligensiebedryf toon. Open-A-I het nie besonderhede oor die omvang of voorwaardes van die aanbod verskaf nie en sê ‘n tydlyn is nog nie vasgestel nie. Reuters berig die K-I-reus mik na ‘n waardasie van tot 16,5-duisend-miljard-rand in ‘n aandelemark-buiging wat reeds in September kan plaasvind. Anthropic het verlede week sy aansoek aangekondig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….