Nuus 15:00
BULLETIN 5 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nege senior polisie-offisiere is geskors oor ‘n Medicare24-tender van 360-miljoen-rand
# Die VF Plus is geskok oor Johannesburg se storting van 90-miljoen liter onbehandelde riool in riviere elke dag
# En rugby: Die Stormers kom teen ‘n gedugte Leinster-span te staan in die Verenigde Rugbykampioenskaps-halfeindstryd
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het bevestig nege senior offisiere is geskors oor hulle beweerde betrokkenheid by die omstrede Medicare24-kontrak van 360-miljoen-rand in die Tshwane-distrik. Hulle sluit in die afdelingskommissaris vir Tegnologie-bestuursdienste, Edith Mavundla, en die waarnemende adjunk-nasionale kommissaris vir Ondersteuningsdienste, Lineo Nkhuoa. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê die skorsings is hangende dissiplinêre en verwante ondersoeke. Die kontrak, wat in 2024 toegeken en later gekanselleer is, word ondersoek oor beweerde verkrygings-onreëlmatighede wat verbind word met die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala.
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, verwelkom die proklamasie wat president Cyril Ramaphosa onderteken het dat die Spesiale Ondersoekeenheid die Werkloosheidversekeringsfonds en die Reguleringsowerheid vir die Privaat Sekerheidsbedryf ondersoek. Dit hou verband met bewerings van wanadministrasie, korrupsie en onwettige optrede met opleidingskontrakte vir meer as sewe-duisend leerders. Die departement se woordvoerder, Thobeka Magcai, sê diegene wat die integriteit van vaardigheids-ontwikkelingsprogramme vir persoonlike gewin misbruik het, moet swaar gestraf word:
# Eskom verwelkom die ondertekening van ‘n gasvoorsieningsooreenkoms met Zululand Energy Terminal en beskryf dit as ‘n belangrike stap na grootskaalse gasaangedrewe kragopwekking. Raadsvoorsitter Mteto Nyati sê die ooreenkoms weerspieël Eskom se hernude fokus om Suid-Afrika se ekonomiese groei op ‘n volhoubare manier aan te vuur. Hy sê gas en hernubare energie sal mekaar aanvul om die betroubaarheid van die kragnetwerk te verbeter, dieselverbruik te verminder en die langtermyn-energie-oorgang ondersteun:
# Die Vryheidsfront Plus is geskok dat drie van die Stad Johannesburg se watersuiweringsaanlegte verantwoordelik is vir sowat 90-miljoen liter onbehandelde riool wat elke dag in riviere invloei. Onbehandelde riool vloei suid in die Kliprivier, terwyl die meeste noord beweeg in die Jukskeirivier voordat dit in die Hartbeespoortdam invloei. ‘n VF Plus-woordvoerder, Cor Boer, sê boonop kan ses water-suiweringsaanlegte in Johannesburg nie meer die toenemende riool-volumes verwerk nie:
# Rugby: Leinster se span is op volsterkte teen die Stormers in môre se Verenigde Rugbykampioenskaps-halfeindstryd op die Aviva-stadion in Dublin, met nie minder nie as tien toetsspelers. Drie veranderings is aangebring aan die Ierse span wat die Leeus verlede naweek in die kwarteindstryd 59-10 verslaan het. Die skrumskakel Jamison Gibson-Park is terug in die opdrafspan terwyl Ronan Kelleher weer op sy pos is as haker, met die flank Josh van der Flier ook weer in die begin-vyftiental. Afskop is half-sewe die aand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-27-sent teen die dollar, 18-rand-93-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-345-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-463-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….