Nuus 15:00
BULLETIN 2 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Bedrogbeskuldigde van Emfuleni word verbind met die ondersoek na die moord op ‘n verklikker
# Die UDM eis dat president Cyril Ramaphosa voor die ampsklagkomitee verskyn
# En rugby: Matthee gaan na verwagting naatloos inskakel by die Stormers ná Sacha se besering
# ‘n Verdagte in ‘n korrupsiesaak in Emfuleni, Gauteng, word verbind met die ondersoek na die moord op die verklikker Martha Mani-Rantsofu. Die taakspan vir politieke moorde het die 25-jarige kontrakteur Janitha van Reenen in hegtenis geneem in verband met 400-duisend-rand se bedrog by die munisipaliteit. Sy het vermoedelik inligting oor die moord nadat sy aan die polisie vertel het sy kan die skuldiges uitwys. Van Reenen se saak is in die Vanderbijlparkse Landdroshof uitgestel vir verdere ondersoek. Sy bly in aanhouding.
# Die UDM beklemtoon president Cyril Ramaphosa moet verskyn voor die Parlement se ampsklagkomitee wat die Phala Phala-skandaal ondersoek. Die Konstitusionele Hof het gelas die Nasionale Vergadering het onregmatig opgetree toe ‘n onafhanklike ondersoek in 2022 afgekeur is. Die UDM se adjunkpresident, Nqabayomzi Kwankwa, het aan SABC News gesê komiteelede onder leiding van die verkose voorsitter, Makashule Gana, moet verseker daar is voldoende hulpbronne beskikbaar vir ‘n naatlose proses van verantwoordbaarheid:
# Die Departement van Binnelandse Sake het ‘n landwye veldtog van stapel gestuur om mense te help wie se identiteitsnommers voor November 2022 geblok is. Persone wat geraak is het tot 10 Julie om redes te verskaf waarom hul ID’s herstel moet word, in ooreenstemming met die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid. Die departement sê die veldtog het ten doel om rekords reg te stel terwyl die Nasionale Bevolkingsregister beskerm word, met meer as 2,2-miljoen ID’s wat reeds deur vorige bevestigingsprosesse reggestel is.
# Rugby: Die Stormers verwag dat Jurie Matthee naatloos by die span sal inskakel vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-halfeindstryd teen Leinster in Ierland. Hy vervang die Springbok-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu, wat ‘n langtermyn-besering opgedoen het in die kwarteindstryd teen Cardiff. Die gewese Blitsbok-ster Seabelo Senatla het harsingskudding en het ook nie gisteraand saam met die span vertrek nie. Die direkteur van rugby, John Dobson, sê Matthee was deel van hulle welslae oorsee en is ideaal vir die soort rugby wat hulle in Dublin wil speel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-20-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-414-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-528-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-21-sent per vat.
# En ten slotte: Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, het ‘n graad 11-leerder aan die Mondale High School, Zayaan Abdurahman, gelukgewens nadat sy en sewe ander Suid-Afrikaanse leerders gekies is om volgende maand die Kennedy-ruimtesentrum te besoek. Sy het haar plek verdien deur die Suid-Afrikaanse Ruimte-ontwerpkompetisie, waar sy toekomstige ruimte-nedersettings ontwerp het. Zayaan sê sy is verheug oor die geleentheid om internasionaal mee te ding en NASA se geriewe in Amerika te besoek:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….