Nuus 15:00
BULLETIN 1 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Styging in petrolpryse en verlagings in dieselpryse tree hierdie week in werking
# ‘n Weermagsoldaat is een van 59 wat aangekeer is tydens ‘n verkeersingryping in KwaZulu-Natal
# En sokker: Talle reëlveranderings is goedgekeur vir die Wêreldbeker
# Die Departement van Minerale en Petroleumbronne het nuwe brandstofpryse aangekondig wat van Woensdag van krag is. Petrolpryse sal met 1,43-rand-per-liter styg en dieselpryse sal met tussen 2,62- en 3,25-rand-per-liter daal. Die aanpassings volg op bestendige wêreldwye oliepryse en ‘n sterker rand, wat aanvanklik tot oorverhaling in brandstofpryse gelei het. Die Nasionale Tesourie se gedeeltelike herinstelling van brandstofheffings het egter tot petrolprysverhogings gelei. Die prys van lampolie daal met 5,96-rand-per-liter en vloeibare petroleumgas word 17-sent-per-kilogram goedkoper.
# Die Madlanga-kommissie het die getuienis van ‘n sakeman van Noordwes, Suliman Carrim, tot 25 Junie uitgestel weens gesondheidsredes. Hy sou na verwagting vandag getuig nadat ‘n vorige verskyning in April weens ‘n beweerde hartaanval uitgestel is. Carrim se prokureur, Kameel Premhid, het ‘n mediese sertifikaat ingedien om die versoek te staaf. Carrim word verdink van tenderbedrog, geldwassery en die gebruik van politieke invloed om staatskontrakte te bekom wat met die beweerde misdaadfiguur Vusimuzi “Cat” Matlala verbind word. Carrim het alle bewerings ontken.
# ‘n Soldaat van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is tydens ‘n verkeersingryping in Ladysmith, KwaZulu-Natal, in hegtenis geneem vir dronkbestuur. Woordvoerder Ndabezinhle Sibiya sê 13 motoriste is op een dag aangekeer, onder meer ‘n taxibestuurder met ‘n bloedalkoholvlak 20 keer meer as die wettige perk terwyl hy passasiers vervoer het. Hy sê altesaam 59 motoriste is in hegtenis geneem, wat die aantal sedert Augustus verlede jaar op sesduisend-345 te staan bring:
# Sokker: FIFA se raad het verskeie reëlveranderings goedgekeur vir die Wêreldbekertoernooi in Kanada, Amerika en Mexiko. Die reëls sluit in vyf-sekonde-aftellings vir ingooie en doelskoppe, rooikaarte vir spelers wat hul monde toehou tydens onderonsies, strawwe vir spanne wat van die veld stap uit verset, en verpligte een-minuut-behandelingsperiodes buite die veld. Daar sal ook ‘n verpligte drie-minuut waterpouse in elke helfte wees. Video-assistent-skeidsregters sal ook nuwe magte hê, insluitend ingryping vir tweede geelkaarte wat verkeerd toegeken is, voorvalle van identiteits-verwarring en hoekskoppe wat verkeerd toegeken is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-25-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-590-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-510-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-29-sent per vat.
# En ten slotte: Die Openbare Beskermer het ingegryp om die versperring van toelaes aan twee Gautengse pensioentrekkers op te hef. Hulle het by die kantoor gekla die maatskaplike sekerheidsagentskap, SASSA, het hul toelaes in Oktober verlede jaar laas betaal. Die Beskermer se woordvoerder, Ndili Msoki, sê die klaers het al die nodige dokumente ingedien en is destyds verseker dat die hersiening van hul aansoeke vir toelaes suksesvol was:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….