Nuus 15:00
BULLETIN 29 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF-leier sê die ampsklagkomitee moenie deur ‘n lid van die regering van nasionale eenheid gelei word nie
# Feroz Khan se dringende hofaansoek is van die rol geskrap
# En: ‘n Vragmotorbestuurdersforum beplan ‘n reuse-staking op KwaZulu-Natal-roetes
# Die EFF-leier Julius Malema sê die party wil hê die Phala Phala-ampsklagkomitee moet gelei word deur iemand buite die regering van nasionale eenheid om ‘n regverdige en deursigtige proses te verseker. Malema, wat na verwagting op die komitee sal dien, glo ‘n onafhanklike voorsitter sal openbare vertroue versterk en die gevaar van politieke invloed verminder terwyl moontlike ampsklag-stappe teen president Cyril Ramaphosa oorweeg word:
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het generaal-majoor Feroz Khan se dringende aansoek van die rol geskrap, nadat beslag gelê is op elektroniese toestelle tydens ‘n polisie-klopjag, en aan die Madlanga-kommissie oorhandig is. Khan het gevra dat selfone en skootrekenaars terugbesorg word, aangesien daar sensitiewe intelligensie-inligting op is wat verband hou met geheime operasies en nasionale veiligheid. Hy het gewaarsku onbeperkte toegang tot die toestelle kan lewens in gevaar stel en ondersoeke benadeel. Khan betwis ook die wettigheid van ‘n deursoeking en beslaglegging sonder ‘n lasbrief.
Die All Truck Drivers Forum and Allied South Africa beplan môre groot ontwrigtings op hoofroetes, insluitend die N3 en N2 in KwaZulu-Natal, met ‘n betoging. Die versetoptrede is om die aandag te vestig oor die indiensneming van ongedokumenteerde buitelandse burgers in die vragmotorbedryf. Die sekretaris-generaal, Gugu Sokhela, het in ‘n onderhoud met SABC News bevraagteken hoe die Wet op Administratiewe Beregting van Padverkeersoortredings op buitelandse bestuurders van toepassing sal wees:
# Eskom het Junaid Munshi aangestel as Groepsbestuurder vir die verspreidingsafdeling. Munshi sal Maandag in die pos begin. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê Munshi beskik oor meer as 30 jaar ervaring in ingenieurswese, kommersiële bestuur en telekommunikasie-leierskap regoor Afrika. Hy was voorheen die hoof- kommersiële beampte by Cable and Wireless Seychelles en het senior poste by Cell C en Vodacom beklee. Sy sê die aanstelling ondersteun Eskom se strategie om mededinging te versterk, kliëntediens te verbeter en die integrasie van hernubare energie te bevorder:
# Tennis: Novak Djokovic sit met net 24 Grand Slam-titels sedert hy die Amerikaanse Ope in 2023 gewen het, maar ná Jannik Sinner se skok-nederlaag en Carlos Alcaraz se afwesigheid in Parys, het hy ‘n kans by die Franse Ope om die gesogte 25ste titel in te palm. Hy kom vanmiddag in die derde ronde teen die 19-jarige Brasiliaan, João Fonseca, te staan, wat gretig is om ‘n Grand Slam-deurbraak te maak. Djokovic het reeds in 2005 sy buiging op Roland Garros gemaak, ‘n jaar voor Fonseca gebore is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-396-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-528-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….