Nuus 15:00
BULLETIN 28 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Joe Sibanyoni en medebeskuldigdes is borgtog van 70-duisend-rand elk toegestaan
# Eskom gaan ‘n nuwe voorafbetaalde elektrisiteitstelsel bekendstel
# En tennis: Djokovic sê die Franse Ope se hitte-reëls moet verander
# ‘n Taxi-baas van Mpumalanga, Joe Sibanyoni, en sy drie medebeskuldigdes is borgtog van 70-duisend-rand elk toegestaan in die Landdroshof in Delmas. Die saak is voorheen van die rol geskrap nadat die staatsaanklaer nie in die Landdroshof in Kwaggafontein opgedaag het nie. Sibanyoni, Bafana Sindane, Phillmon Msiza en Daniel Masilela staan tereg op aanklagte van afpersing en geldwassery omdat hulle na bewering tussen 2022 en verlede jaar ‘n sakeman in Nkangala gedwing het om ongeveer 2,2-miljoen-rand se beskermingsgeld te betaal. Die saak is tot 1 September uitgestel.
# Die DA vra strafregtelike ondersoeke moet voortgaan teen die voormalige minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, al het die ANC haar beveel om as parlementslid en president van die ANC-Vroueliga te bedank. Sy word beskuldig van etiese oortredings, die verberging van voordele en onreëlmatige aanstellings. Die DA en ActionSA het klagtes ingedien by die Parlement se Etiekkomitee en strafsake geopen. DA-woordvoerder Nazley Sharif het aan SABC News gesê aanspreeklikheid moet seëvier:
# Eskom beplan om ‘n nuwe voorafbetaalde elektrisiteitstelsel genaamd Easy Electricity bekend te stel, wat verbruikers toelaat om krag in rand of kilowatt-ure te koop. Eskom sê dit sal elektrisiteitsaankope vereenvoudig en huishoudings help om hul verbruik beter te bestuur. Die nuwe krag-eenhede sal nie na 12 maande verval soos tans die geval is nie. Die kragreus sê die stelsel is gegrond op bestaande huis-tariewe en daarop gemik om verbruikers-gerief te verbeter namate meer Suid-Afrikaners vertroud raak daarmee om hul kragverbruik dop te hou.
Nuus uit die buiteland:
# Die Demokratiese Republiek die Kongo het aangekondig Afrika-burgers in besit van ‘n geldige paspoort sal vanaf 1 Januarie 2027 visumvrye toegang hê. President Denis Sassou Nguesso sê die stap het ten doel om Afrika-eenheid, handel en streeksintegrasie te versterk. Die besluit is in Brazzaville aangekondig tydens die Afrika-ontwikkelingsbank se vergadering. Kongo sluit aan by ‘n toenemende aantal Afrikalande wat reisbeperkings vir mede-Afrikane verlig om toerisme, beleggings en grensverkeer op die vasteland ‘n hupstoot te gee.
# Tennis: Die driemalige kampioen, Novak Djokovic, sê die Franse Ope se hitte-reëls moet verander. Die Serwiër het gistermiddag teen die plaaslike speler Valentin Royer gespeel terwyl die temperatuur in Parys bo 30-grade Celsius was. Djokovic stel voor Roland Garros moet spel staak tydens die dag, soos by die Australiese Ope, of wedstryde moet later begin, selfs al moet deelnemers tot laat in die nag speel wanneer dit koeler is:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-275-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-388-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….