Nuus 15:00
BULLETIN 27 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie maak gereed vir die kieserregistrasienaweek
# Twee amptenare is geskors oor vals verwysings in die K-I-dokument
# En sokker: Skotland is vasbeslote sy eerste Wêreldbekertoernooi in 28 jaar sal nie net om deelname gaan nie
# Die Verkiesingskommissie sê voorbereidings vorder goed vir die kieserregistrasienaweek van 20 en 21 Junie. Uitvoerende hoof Sy Mamabolo het tydens die nasionale bekendstelling van die plaaslike regeringsverkiesing in Midrand, Gauteng, gesê byna 24-duisend registrasiepunte sal landwyd oopmaak om burgers toe te laat om te registreer en besonderhede by te werk. Hy bevestig meer as 800 uitreik-spanne is ontplooi en meer as 62-duisend gemeenskapsgeleenthede is aangebied:
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, het ‘n onafhanklike paneel aangestel om Suid-Afrika se Konsepbeleid oor Kunsmatige Intelligensie te hersien nadat dit teruggetrek is weens moontlike K-I-geskepte verwysings. Hy het in die Parlement gesê die paneel van sewe lede sal foutiewe aanhalings regstel en veranderings aanbeveel voor goedkeuring deur die kabinet. Malatsi bevestig die hersiene beleid sal teen Januarie vir openbare kommentaar gepubliseer word:
Intussen is twee amptenare van die departement voorlopig geskors nadat hulle ChatGPT gebruik het om die beleid sonder openbaarmaking op te stel. Die dokument het vals akademiese verwysings bevat wat deur K-I-hallusinasies geskep is en is daarna teruggetrek. Minister Malatsi het dissiplinêre stappe bevestig, terwyl die Parlement interne toesig en die gebruik van K-I in beleidsopstelling bevraagteken het.
# Die vakbondfederasie SAFTU ondersteun COSATU se versoek aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank om nie môre rentekoerse te verhoog nie. SAFTU se hoofsekretaris, Zwelinzima Vavi, sê ‘n verdere rentekoersverhoging sal die koste van huislenings, voertuigfinansiering en huishoudings se skuldterugbetalings verhoog, en belegging en ekonomiese groei ontmoedig. Hy sê die Reserwebank kan nie voortgaan om inflasie te hanteer asof dit in afsondering bestaan van die maatskaplike krisis waarmee die meerderheid te kampe het nie:
# Sokker: Skotland is vasbeslote sy eerste Wêreldbeker-toernooi in 28 jaar sal nie net oor deelname gaan nie, maar om ten minste die uitklopfases te haal. Die land is in die moeilike Groep C, waar hulle teen die vyfmalige kampioen Brasilië, die Afrika-kampioen Marokko en die Karibiese span Haïti te staan kom. Skotland begin sy veldtog op 14 Junie teen Haïti in Boston, Amerika. Afrigter Steve Clarke kan staatmaak op ervare spelers soos Andy Robertson van Liverpool, Aston Villa se kaptein, John McGinn, en Scott McTominay van Napoli.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-723-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-435-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….