Nuus 15:00
BULLETIN 31 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die vermoorde Tshuma-gesin se oorskotte word uit Brittanje na Zimbabwe gerepatrieer
# Die Motorbedryf-personeelvereniging waarsku daar is nie meer verskonings om verkeersboetes te ignoreer nie
# En rugby: Markus Muller speel sy eerste Curriebekerwedstryd vir die Stormers-23
# Die liggame van ‘n Zimbabwiese vrou en haar twee dogters wat in Brittanje vermoor is, sal na verwagting Sondag na Zimbabwe gerepatrieer word voor hulle Dinsdag in Bulawayo begrawe word. Nothabo, Natalie en Nala Tshuma is vroeër die maand dood aangetref in hul huis in Bedfordshire. Tshuba se man, Ndodana, het na Suid-Afrika gevlug maar is in Johannesburg aangekeer. Hy het sy aansoek om borgtog laat vaar in die Johannesburgse Landdroshof en bly in aanhouding op vuurwapen-aanklagte terwyl uitleweringsverrigtinge na Brittanje voortduur.
# Die gewese Vrystaatse premier en sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, het glo sy visier daarop gestel om die volgende burgemeester van die Matjhabeng-munisipaliteit in die Vrystaat te word. Hy staan tans tereg op aanklagte van bedrog en korrupsie rondom ‘n asbes-tender van 255-miljoen-rand. Magashule, wat nou leier van African Congress for Transformation is, beplan volgens berigte om die ANC uit te daag in November se plaaslike regeringsverkiesing. Matjhabeng ondervind voortdurende dienslewerings- en bestuursuitdagings, wat dit ‘n sleutel-verkiesingslagveld maak.
# Die DA gaan self ondersoek instel na beweerde luukse verblyf, dubbele besprekings en buitensporige reisuitgawes van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente se administrasie. Volgens Daily Maverick het die administrateur, Hlengani Mathebula, se verblyf van vier nagte in die Pepperclub Hotel en Spa in Mei belastingbetalers nege-duisend-200-rand gekos, en hy het ook vier raadgewers aangestel vir byna tien-miljoen-rand. DA-woordvoerder Delmaine Christians sê studente sukkel intussen met laat betalings, onvoldoende toelaes en verblyfkrisisse:
# Die Motorbedryf-personeelvereniging sê motoriste moet die Administratiewe Beregting van Padverkeersoortredingstelsel ernstig opneem en waarsku verkeersboetes kan nie meer geïgnoreer kan word nie. Die vakbond sê motoriste wat versuim om te op te tree, loop die gevaar van strafpunte, lisensie-opskorting of kansellasie. Woordvoerder Phakamile Hlubi-Majola het motoriste aangeraai om oortredingskennisgewings te monitor, versigtig te wees vir gekloonde nommerplate, vals betaalwebwerwe te vermy en boetes vinnig te vereffen:
# Rugby: Paarl Gimnasium se kaptein van verlede jaar, Markus Muller, sal môre se jaarlikse interskole teen Boishaai misloop omdat hy sy eerste Curriebekerwedstryd vir die Stormers-23 sal speel. Die kus-derby teen die Haaie vind op die Kaapstad-stadion plaas. Die 19-jarige senter word reeds as ‘n toekomstige internasionale ster beskou, hoewel ‘n besering hom daarvan weerhou het om sy buiging vir die Springbokke te maak. Hy het slegs een wedstryd vir die senior Stormers-span gespeel, en het ook die Suid-Afrikaanse Onder-20- en die Suid-Afrikaanse A-span verteenwoordig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-856-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-56-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….