Nuus 15:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 17 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister skryf die daling in moorde toe aan die polisie se voortgesette teen-misdaadpogings
# Die ANC vra vir strafregtelike klagte teen Standard Chartered vir ekonomiese sabotasie
# Sokker: Bafana begin hul Wêreldbeker-kwalifiseringsveldtog teen Benin
# Die minister van Polisie, Bheki Cele, skryf die afname in moorde toe aan die polisie se voortgesette pogings deur beslissende optrede en ‘n sterk gemeenskapsbetrokkenheid. Hy het op ‘n nuuskonferensie gepraat oor die jongste misdaadsyfers. Cele het ‘n agtereenvolgende afname in moordsyfers vir die tweede kwartaal aangekondig, met ‘n daling van 3,1-persent wat van Mei tot Julie waargeneem is en ‘n bykomende vermindering van 0,8-persent tussen Julie en September. Cele sê die agteruitgang is nie ‘n aanspraak op oorwinning deur die SAPD nie:
Speel klankgreep: ENG CeleOnMurderDecline
# Die ANC eis aanspreeklikheid van die Britse multinasionale bank, Standard Chartered, ná sy erkenning van kartel-gedrag met die manipulering van die rand se waarde. Die ANC se nasionale woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, sê die ooreengekome skikking van 43-miljoen-rand is nie genoeg om die beduidende skade aan die land se ekonomie reg te stel nie. Bhengu-Motsiri doen ‘n beroep op wetstoepassingsagentskappe om ‘n saak teen betrokke individue aanhangig te maak en op geregtigheid aan te dring. Sy het ook die Mededingingskommissie geprys vir sy ondersoek.
# Meer as 300 leerders wat verlede jaar by ‘n matriekeksamen-kullery-skandaal betrek is, versoek ‘n Hooggeregshofbevel wat die Departement van Basiese Onderwys dwing om hul matriek-uitslae vry te stel. News24 berig die departement het die uitslae weerhou ná ondersoeke oor bewerings van bedrog in ses provinsies. Die leerders word beskuldig dat hulle onderwysers betaal het vir antwoorde in wiskunde en fisiese wetenskap, maar hulle beweer die departement se dissiplinêre proses lyk soos ‘n boendoehof. Die leerders eis deursigtigheid en billike behandeling in die uitkoms van hul weerhoude uitslae.
# Die DA se oorsese netwerk, DA Abroad, verwelkom die Onafhanklike Verkiesingskommissie se versekering dat oorsese aanlyn registrasie die naweek in werking sal tree. Dit volg nadat die OVK se adjunk uitvoerende hoof van verkiesingsbedrywighede, Masego Sheburi, dié week aan die Parlement bevestig het dat die aanlyn registrasiestelsel vir buitelandse kiesers nou gereed is. Ludré Stevens van die DA sê met byna twee-miljoen burgers in verskeie hoedanighede oorsee, insluitend vir studie, werk, vakansie of permanente verblyf, sal hierdie meganisme ongekende geleenthede verseker om te registreer en te stem.
# Sokker: Bafana Bafana begin hulle kwalifiseringsveldtog vir 2026 se Wêreldbekertoernooi in Kanada, Mexiko en die VSA met ‘n tuiswedstryd môre teen Benin en ‘n wegwedstryd Dinsdag in Rwanda. Suid-Afrika sal probeer om die eerste keer in meer as 20 jaar vir dié wêreldskouspel te kwalifiseer. Die span het baie verbeter onder die bestuur van Hugo Broos en is onoorwonne in elf agtereenvolgende wedstryde sedert Junie verlede jaar. Die doelwagter, Ronwen Williams, meen Bafana kán vir die Wêreldbeker-toernooi kwalifiseer:
Speel klankgreep: ENG Ronwen Williams
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-415-dollar-60-sent. Die prys van goud is een-duisend-989-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….