Nuus 15:00
BULLETIN 16 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister McKenzie kritiseer Mkhwanazi se rebelse nuuskonferensie maar steun sy teenkorrupsie-standpunt
# Tax Justice SA vra die regering om toe te slaan op onwettige sigarethandel-sindikate
# En tennis: ‘n Britse speler word vir vier jaar geskors weens opkikker-gebruik
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se nuuskonferensie gekritiseer en sê dit het ‘n rebelse aanslag gehad. McKenzie het na die lewering van sy departement se begroting aan Newzroom Afrika gesê gewapende personeellede het die perseel omring en die styl van die toespraak was twyfelagtig. Hy prys egter sy moed om wangedrag in die Polisiediens te bespreek en sê hy is bereid om voor die kommissie van ondersoek te getuig:
# Die stigter van Tax Justice SA, Yusuf Abramjee, verwelkom die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se erkenning oor die verwoestende omvang van onwettige handel in sigarette. Hy sê die minister se erkenning oor Suid-Afrika wat sukkel om ‘n gat toe te stop waaruit 100-miljoen-rand per dag lek weens onwettige sigarette, bevestig jare van waarskuwings. Abramjee sê erkenning sonder daadwerklike stappe het geen waarde nie, en spoor owerhede aan om strenger op te tree teen onwettige sigarethandel-sindikate in die land:
# Green Connection is bekommerd oor die onlangse goedkeuring van die omgewingstudie vir Shell se voorgestelde Noord-Kaapse Ultra Deep olie- en gas-ondersoekprojek. Die projek aan die Weskus tussen Port Nolloth in die Noord-Kaap en Saldanhabaai in die Wes-Kaap, sal die sink van vyf boorgate en gespesialiseerde seismiese opnames behels om die seebodem te karteer. Shahil Singh van Green Connection sê dié goedkeuring het gevolg ondanks herhaalde besware van kusgemeenskappe en die burgerlike samelewing:
# Ten minste 248 mense is dood in die suidelike Siriese provinsie Sweida na dae van gevegte wat gelei het tot die ontplooiing van regeringsmagte. Volgens die Siriese Menseregte-organisasie sluit die dodetal 92 lede van die Droese-minderheid in, waarvan 28 burgerlikes is, met 21 wat deur regeringsmagte tereggestel is. Ten minste 138 Siriese sekerheidspersoneelllede is dood, en ook 18 geallieerde Bedoeïenvegters. Die Israelse minister van Verdeging, Israel Katz, het ‘n beroep op Sirië gedoen om die Droese met rus te laat en beloof om met militêre aanvalle voort te gaan totdat dit gebeur.
# Tennis: Tara Moore van Brittanje is vir vier jaar geskors nadat sy in April 2022 positief getoets het vir opkikkers. Die 32-jarige is in Desember 2023 vrygespreek nadat ’n onafhanklike tribunaal vasgestel het dat die toetsuitslag deur besmette vleis veroorsaak is. Die Internasionale Tennis-integriteitagentskap het egter teen die bevinding appelleer en het die saak gewen in die Hof vir Arbritrasie in Sport. Brittanje se gewese nommer-een-dubbelspeler se oorspronklike skorsing van 19-maande word van die nuwe skorsing afgetrek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-81-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-930-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-336-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….