Nuus 15:00
BULLETIN 26 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa nader die hof om ‘n paneel se verslag oor Phala Phala tersyde gestel te kry
# Rugby: Die Blitsbokke pak Brittanje, Kenia en Australië in Groep A in Valladolid
# En pous Leo vra om verskoning vir die Katolieke Kerk se geskiedkundige rol in slawerny
# President Cyril Ramaphosa het ‘n aansoek by die Wes-Kaapse Hooggeregshof ingedien vir die hersiening en tersydestelling van ‘n onafhanklike paneel se verslag oor Phala Phala. Hy betoog in hofstukke die paneel het sy mandaat wanvertolk en hom laat lei deur onbewese bewerings toe bevind is hy het moontlik die Grondwet oortree en dat daar ‘n belangebotsing was. Die hofaansoek volg nadat die Konstitusionele Hof beslis het die Nasionale Vergadering het onwettig opgetree met die verwerping van die paneel se verslag.
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, sê sy departement se begroting is daarop gemik om te verseker dat onderwys tot werksgeleenthede lei. Hy het aan die Parlement gesê te veel gegradueerdes sukkel met die oorskakeling na werk, terwyl werkgewers steeds vaardigheidstekorte aanmeld. Hy beklemtoon die behoefte om die doeltreffendheid van vaardigheidstekorte te verbeter, aangesien die bedryf en die regering ‘n groter rol speel in die identifisering van werkplekbehoeftes:
# Solidariteit steun Glencore-Merafe en Samancor se aansoeke vir ‘n spesiale elektrisiteitstarief van 62-sent per kilowatt-uur. Pieter Jordaan van Solidariteit waarsku duisende werksgeleenthede verkeer in gevaar indien verligting nie toegestaan word nie, met elektrisiteit wat tot 60-persent van die smeltproduksiekoste verteenwoordig. Hy sê vier-duisend regstreekse werksgeleenthede en meer as 35-duisend ander, verbind aan gemeenskappe en voorsieningskettings, kan geraak word indien bedrywighede moet sluit:
# Rugby: Die Blitsbokke pak Brittanje, Kenia en Australië in die groepfase van die naweek se Wêreldkampioenskaps-toernooi in Valladolid, Spanje. Suid-Afrika was verlede maand in Hongkong die wenner van die eerste van drie toernooie. Die laaste geleentheid vind vroeg volgende maand in Bordeaux, Frankryk, plaas wanneer die algehele wenner gekroon sal word. Die Blitsbokke kom Vrydagmiddag 12:30 in die eerste wedstryd teen Brittanje te staan, gevolg deur Kenia net na 5 die middag en Australië Saterdagmiddag half-twee.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-158-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-526-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-71-sent per vat.
# En ten slotte: Pous Leo het die duidelikste verskoning van ‘n pous tot nog toe uitgereik oor die Katolieke Kerk se rol in slawerny, en erken vertraging met die veroordeling daarvan en die geskiedkundige betrokkenheid by die regverdiging daarvan. Leo het in sy eerste brief aan biskoppe en die wêreldgemeenskap gesê dit het die kerk eeue geneem om die euwel van slawerny ten volle te erken as onversoenbaar met menswaardigheid. Hy sê owerhede het soms op heersers gereageer deur vorms van onderdrukking te reguleer en te regverdig, insluitend die slawerny van nie-Christene.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….