Nuus 15:00
BULLETIN 18 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die verhoor van Sindiso Magaqa se vermeende moordenaars is weer uitgestel
# ‘n Hommeltuigaanval veroorsaak ‘n brand naby ‘n kernkragsentrale in die Verenigde Arabiese Emirate
# En rugby: Die VRK bereik sy uitspeel-rondes met drie Suid-Afrikaanse spanne in die kwarteindstryde
# Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg het die verhoor van die drie vermeende moordenaars van die voormalige sekretaris-generaal van die ANC-Jeugliga, Sindiso Magaqa, tot 3 Junie uitgestel. Staatsaanklaer Elvis Gcweka het uMzimkhulu se voormalige munisipale bestuurder, Stanley Sikhosana, gekritiseer oor die vertraging nadat hy van regspan verander het. Gcweka sê vier getuies is dood terwyl ander ná ses jaar steeds onder getuiebeskerming is. Hy sê die staat is gereed om voort te gaan:
# Business Leadership South Africa sê hervorming van die logistieke sektor is van kritieke belang vir toekomstige ekonomiese sukses. Volgens die jongste data vir die 2025/26-boekjaar het die land se agt kommersiële hawens agt-duisend-630 skeepsaankomste aangeteken. Dit verteenwoordig ‘n toename van nege-persent vergeleke met die vorige boekjaar. BLSA se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê die spoed moet versnel, met die voltooiing van die Netwerkverklaring, meer hawe-konsessies wat afgehandel is, en die behoefte aan transaksie-voorwaardes wat werklik privaat belegging moontlik maak, eerder as om Transnet se monopolie te beskerm.
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta het die organiseerders van die March and March-veldtog gevra om Nigerië te vereer vir sy ondersteuning tydens die anti-apartheidstryd. Hy sê Nigerië het finansiële hulp, beurse en politieke solidariteit verleen en moet erken word vir sy bydrae tot demokrasie. Die beweging beywer hom teen ongedokumenteerde immigrante. Makaneta vra hy moet nie ongedokumenteerde kinders teiken nie, en beklemtoon alle kinders het ‘n grondwetlike reg op basiese onderwys:
# ‘n Hommeltuig-aanval het ‘n brand veroorsaak naby ‘n kernkragsentrale in die Verenigde Arabiese Emirate, en Saoedi-Arabië berig drie hommeltuie is onderskep. Dit volg nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, gewaarsku het Iran moet vinnig optree nadat pogings om die oorlog in die Midde-Ooste te beëindig, blykbaar ‘n dooiepunt bereik het. Amptenare sê hulle ondersoek die oorsprong van die aanval, en die V-A-E het die volle reg om te reageer op sulke terroriste-aanvalle. ‘n Diplomatieke raadgewer vir die regering sê dit dui op ‘n gevaarlike verergering van vyandighede.
# Rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap gaan nou sy uitspeelrondes binne met drie Suid-Afrikaanse spanne wat vir die kwarteindronde gekwalifiseer het. Die Stormers en die Bulle het tuiswedstryde verseker. Die Stormers, derde op die punteleer, speel volgende Saterdag teen die Walliese span Cardiff in Kaapstad, terwyl die vierde-geplaaste Bulle op Loftus in Pretoria kragte meet met Munster van Ierland. Die Leeus, wat sewende geëindig het, kom in Ierland teen Leinster te staan. Die halfeindstryde word die sesde van volgende maand beslis en die eindstryd die 20ste.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-41 teen die euro en 22-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-719-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-538-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….