Nuus 15:00
BULLETIN 14 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof verwerp Zuma en Thales se poging om die wapentransaksie-verhoor uit te stel
# Die Wes-Kaapse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling vra hulp vir stormgeteisterde gemeenskappe
# En rugby: Gans kan Saterdag sy 100ste wedstryd vir die Bulle speel
# Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg het nuwe pogings deur oudpresident Jacob Zuma en die Franse wapenvervaardiger Thales verwerp om die jarelange multi-miljard-randse wapentransaksie-korrupsieverhoor uit te stel. Die verhoor sleep reeds langer as 20-jaar voort. Regter Nkosinathi Chili het beslis die saak moet voortgaan en verwerp verdere appèlaansoeke, wat aanklaers Stalingrad-taktiek noem. Hy het ook betoë verwerp dat die dood van sleutelgetuies ‘n verhoor onmoontlik maak:
# Luitenant-Kolonel Nkoana Sebola van die Valke het voor die Madlanga-kommissie getuig beamptes het beweerde dwelmbewyse verkeerd hanteer tydens die Aeroton-dwelmklopjag in Gauteng. Sebola sê die sakke moes nooit uit die houer verwyder word of agter in ‘n bakkie gelaai gewees het nie, want dit het die ondersoek se integriteit in die gedrang gebring. Hy sê daar was geen redelike regverdiging vir die stappe wat op die toneel gedoen is nie:
# Die Wes-Kaapse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het die privaat sektor en die algemene publiek wat moontlik kan help, gevra om organisasies sonder winsbejag by te staan waar hulle reageer op weerverwante rampe. Drie-duisend-628 mense in die provinsie het reeds hul huise verloor en word in gemeenskapsale gehuisves. LUR Jaco Londt sê in Kaapstad alleen is 85-duisend-512 mense deur die onlangse storms geraak:
Nuus uit die buiteland:
# China se president, Xi Jinping, het aan die begin van ‘n tweedaagse beraad aan sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump, gesê handelsgesprekke vorder. Hy waarsku egter meningsverskille oor Taiwan kan betrekkinge benadeel en selfs konflik veroorsaak. Xi het die opmerkings oor die demokraties-bestuurde eiland wat deur Beijing opgeëis word, geopper tydens ‘n geslote vergadering van die leiers van die wêreld se twee grootste ekonomieë. Hulle het ooreengekom om samewerking in handel en landbou uit te brei en menings uitgeruil oor die situasie in die Midde-Ooste, Oekraïne en die Koreaanse Skiereiland.
# Rugby: Die agterspeler Stedman Gans hoop om sy 100ste wedstryd vir die Bulle te speel in Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-groepwedstryd teen Benetton op Loftus. Die voormalige Blitsbok-ster het sedert 2017 in 22 wedstryde vir die Blou Bulle en 45 vir die Bulle gespeel. Hy beskryf sy tyd in Pretoria as ‘n seën. Die Bulle is tans vierde op die punteleer en kan ‘n tuiskwarteindstryd verseker as hulle die Italianers hierdie naweek klop. Benetton is in die 13de posisie en sal nie die groepfase oorleef nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-19 teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-432-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-694-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….